Die omstrede webwerf crimexposouthafrica (cesa) is steeds aan die gang

RAPPORT

Verslaggeefster – Maygene de Wee

KAAPSTAD – Mnr. Juan-Duval Uys, die vermeende kuberterroris wat self die nuwe adres – crimexposouthafrica.net aan Rapport gegee het, ontken dat hy enigiets met die webtuiste te make het. Uys was glo die baasbrein agter die omstrede crimexposouthafrica.com toe dit vir die eerste keer die lig gesien het. Soos op crimexposouthafrica.com word net slegte nuus oor die misdaadsituasie in die land weergegee. Rapport kan ook onthul dat Uys nie meer as ‘n verdagte beskou word in die moordsaak van mnr. Hennie Smit, ‘n beampte van die departement van korrektiewe dienste, meer as veertien jaar gelede nie. Die ondersoekbeampte in die saak van crimen injuria wat mnr. Simon Grindrod, OD-raadslid, teen Uys aanhanging gemaak het, het gesê sy het verneem hy is nie meer ‘n verdagte nie. Uys het Woensdag aan Rapport gesê hy ontken alle beweringe teen hom. Hy sê hy het nie die R250 gesteel nie waarvoor ‘n lasbrief teen hom uitgereik is. En hy gaan Grindrod vir sowat R12miljoen dagvaar. Dit is in reaksie op Grindrod se klag en ook opmerkings van die politikus Maandag in die Kaapse landdroshof. Uys het gesê hy het nog nooit iets leliks van Grindrod gesê nie. Maar verlede week in die Kroonstadse landdroshof het Uys gesê hy staan “500%” by dit wat hy vroeër van Grindrod gesê het. Vir die teenstrydigheid het die welsprekende Uys ‘n verduideliking: Hy was sedert hy by sy ouerhuis in hegtenis geneem is, op ‘n eetstaking – glo omdat die polisie hom nie ‘n telefoonoproep of toegang tot ‘n regsverteenwoordiger wou toelaat nie. Sy mond was droog en dis hoekom dit geklink het of hy sê “hy erken 500%”. “Ek het eintlik gesê ek ontken 500%”. Soos voorheen het Uys steeds volgehou dat die name Neil Watson, David Baxter, Shaun Thompson en Skye nie skuilname is wat gebruik is nie. Hy sê Neil Watson, David Baxter en Shaun Thompson bestaan werklik, maar waar hulle nou is, kan hy nie sê nie. Maandag is die klag van crimen injuria wat Grindrod teen Uys aanhangig gemaak het, ook by die bedrogklag gevoeg. Grindrod het op die hof se trappe gesê Uys het sielkundige hulp nodig. Hy gaan ook ‘n siviele eis teen Uys indien.

To Top