Huishulp beskuldig in dagmoeder-saak

Die Burger

Verslaggewer: Jackie Pienaar-Brink

Somerset Wes – Die verdediging het gister die vinger gewys na die huishulp van ‘n dagmoeder wat daarvan aangekla word dat sy kinders in haar sorg medisyne toegedien het sodat hulle kon slaap. Daar word aangevoer mev. Monica Helm (62) van die Kinderland- creche in Heldervue, Somerset-Wes, het ‘n kombinasie van oor-die-toonbank- en voorskrifmedisyne gegee aan kinders van tussen drie maande en drie jaar oud. Sy het in die plaaslikke streekhof onskuldig gepleit op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer asook die alternatief van mishandeling en ‘n negende aanklag dat haar dagsorgsentrum nie behoorlik geregistreer was nie. Haar regsverteenwoordiger, mnr. Keith Gess, het dit aan haar huishulp, mev. Angeline Carolus, gestel dat as daar enige gevaarlikke stowwe in die vloeistof was wat die kinders toegedien is, dit deur Carolus daar geplaas is. Carolus, ‘n staatsgetuie, het dit heftig ontken. Sy het getuig sy het in Oktober 2004 as huishulp vir Helm begin werk. Eers toe sy die eerste dag inval, het sy besef dit is ‘n dagsorgsentrum en dat sy ook daar sou moes help. Die kinders het soggens pap gekry, die groter kinders almal hawermout, en daarna medikasie – volgens Carolus pille wat Helm uit haar kamer gebring, tussen twee lepels fyngemaak en daarna met kraanwater gemeng het. Haar opdrag aan Carous was dat elke kind tussen vyf en 15 eetlepels daarvan moes kry “sodat hulle kan slaap”. As kinders wakker geword en moeilik geraak het, moes sy dit weer gee, het sy getuig nadat streeklanddros Marilyn Cannon seker gemaak het sy bedoel soveel eetlepels per kind en op een slag. Helm het daarmee gehelp en dikwels aan ouers gesê hul kinders was huilerig en stout, terwyl hulle in werklikheid net geslaap het. Carolus het getuig sy het soms agteraf aan die ouers probeer beduie dit is leuens, maar wou nie openlik praat nie omdat sy bang was sy verloor haar werk. Nadat ‘n ma haar toevallig in ‘n supermark raakgeloop en gevra het wat fout is, het Carolus met die sak patats vorendag gekom en in die gehim monsters van die medikasie aan ‘n ma en die polisie verskaf. Gess het daarop gehamer dat Helm en Carolus se verhouding versuur het, onder meer weens beskuldigings van diefstal teen Carolus. Hy het aangevoer ‘n mengsel van gemmer, heuning, water en/of melk en Panado is met ouers se toestemming aan kinders gegee, net as hulle siek was. Carolus het dit ontken. Die saak duur vandag voort.

To Top