Ma getuig oor ‘slap, bedwelmde’ kleuter in aanrandingsaak teen dagmoeder

DIE BURGER

Verslaggewer – Jackie Pienaar-Brink

Somerset-Wes

‘n Ma het gister hier in die streekhof getuig hoe sy haar kleuterseun half deurmekaar en slap aangetref het enkele ure nadat sy hom by ‘n plaaslike dagmoeder afgelaai het. Die dagmoeder, mev. Monica Helm (62), word daarvan verdink dat sy babas en kleuters in haar sorg ‘n kombinasie van oor-die-toonbank- en voorskrifmedisyne ingegee het sodat hulle kon slaap. Sy ontken skuld op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, die alternatief van mishandeling, en ‘n verdere aanklag dat haar dagsorgsentrum nie geregistreer was nie. Die vyf ma’s wat tot dusver getuig het, het simptome wat wissel van maagprobleme tot braking, bewerigheid, rusteloosheid en slaaploosheid by hul kinders opgemerk nadat hulle by die Kinderland-creche verwyder is. Mev. Mene Lottering het getuig die polisie het haar op 12 Desember 2007 telefonies versoek om haar seun by die creche te gaan haal. Sy het hom in die motorhuis op ‘n matras aangetref, “half deurmekaar en slap”. Op versoek van die polisie het sy haar kind vir ‘n urinetoets en bloedtoetse na die Vergelegen Medi-Clinic gebring. Op pad het hy heen en weer in die kar geval. Haar huisdokter het gemeen haar kind het iets ingekry wat sy senustelsel aangetas het. Daar was ‘n swart aanpaksel in sy keel, sy pupille was vergroot en sy lewer was pynlik met aanraking. Nog ‘n ma, me. Janine Heyns, het getuig opiate is in haar kind se urine gevind. Helm se prokureur, mnr. Keith Gess, het beswaar aangeteken. Die aanklaer, me. Karien Theron, het laat blyk hierdie bevinding van Heyns se dokter stem ooreen met ‘n Pathcare-bevinding. Sy weet Pathcare se mense wil nie getuig nie, maar Heyns se dokter sal wel. Al die ma’s het ontken Helm het hul toestemming gevra om ‘n gemmer-en-Panado-mengsel aan hul kinders te gee as hulle olik is. Gess het gesê as die kinders iets anders as die mengsel ingegee is, was die huiswerker, me. Angeline Carolus, daarvoor verantwoordelik. Sy is ‘n staatsgetuie. Die saak duur vandag voort.

To Top