‘Is my dogter se lewe net R2000 werd?’

Die Burger, artikel deur Jana Breytenbach

Nicole Bester het baie meer vir ander as vir haarself omgegee, en die enigste rede hoekom sy teruggegaan het na haar kêrel was omdat sy sy twee kinders baie lief gehad het.

Sy het vir hulle teruggegaan, het haar ma, Cashandra Bester, gesê toe sy gister saam met familie en vriende buite die landdroshof in Bellville betoog het.

Bester se kêrel, ………….(39), het vir die tweede keer op aanklag van moord in die hof verskyn.

Bester se pa, Stewart, en een van haar susters, Chelsea, was in swart geklee en het saam met die groep van sowat 30 mense voor die hof betoog. Hulle  het plakkate met foto’s van Bester en boodskappe soos “Justice for Nicole Bester”, “Stop violence against women” en “No bail for a murderer” vasgehou.

………… wat op 25 Februarie in hegtenis geneem is, was een nag in polisieaanhouding, waarna hy die volgende dag op borgtog van R2000 vrygelaat is.

“Ek weet nie eintlik hoe ons hieroor voel nie. Is my dogter se lewe dan net R2000 werd?” het Cashandra buite die hof gesê.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die saak is vir verdere ondersoek tot 11 Junie uitgestel.

Bester was ‘n student in aptekerswese aan die Universiteit van Wes-Kaapsland en die ma van ‘n vyfjarige dogter.

Haar lyk is op 22 Augustus verlede jaar aangetref in ‘n woonstel in Burgundy Estate, waar sy sowat ‘n jaar lank saam met haar vriend gewoon het.

Aanvanklik is vermoed dat sy haar eie lewe geneem het deur ‘n oordosis pille te drink.

“Ons het ‘n oproep gekry dat sy dood is en verder kon ons niks meer uitvind nie. Eers in Februarie het hulle ons laat weet dat sy verwurg is,” het Cashandra gesê.

In die lykskouing is ‘n blou merk onder Bester se ken gevind. Volgens die uitslag van die lykskouing is sy verwurg.

Die familie het glo eers later gehoor dat ………….. in verband met haar moord in hegtenis geneem is.

Cashandra sê haar dogter het elke keer as sy en ………….. uitmekaar is, teruggegaan omdat sy …………… se twee kinders baie lief gehad het en besorg was oor hulle. “Sy was baie lief vir haar eie kind, maar het haarself uitgesit vir hulle,” sê sy.

“Ons baklei vir ons kind en vir geregtigheid, en hoewel hy sê hy het dit nie gedoen nie, weet ons hy het.”

Die gesin voer aan dat die polisie geen inligting met hulle deel nie en dit is waarom hulle besluit het om self hof toe te kom om te kyk wat in die saak aangaan.

Na die hofverskyning het van die betogers ……………. na sy werkplek in die ……………….. gevolg en voor die veiligheidsheining betoog. Hulle het van hul plakkate ook daar vasgebind.

Volgens Chelsea was haar suster die mooiste mens, wat altyd ander voor haarself gestel het.

“Sy was altyd daar vir my en het my beskerm. Ons het mekaar in die laaste tyd nie so baie gesien nie omdat ek ook ‘n baba gehad het, maar sy was daar die dag toe ek gekraam het.”

Bester se dogter bly nou by haar biologiese pa.

To Top