Jong vrou se familie het vrae oor haar dood

Die Burger, artikel deur Jackie Kruger

Die familie van ‘n jong vrou van Kaapstad soek antwoorde na haar dood in ‘n woonstel in die woonbuurt Burgandy Estate.

Die lyk van Nicole Bester (23), ‘n student in aptekerswese aan die Universiteit van Wes-Kaapland en die ma van ‘n vyfjarige meiesie, is op 22 Augustus verlede jaar aangetref in die woonstel waar sy sowat ‘n jaar lank saam met haar vriend gewoon het.

Aanvanklik is vermoed dat sy haar eie lewe geneem het deur ‘n oordosis pille te drink.

Volgens haar ma, Cashandra Bester van Prins Albert, het haar dogter se vriend hulle glo die dag gebel en van haar dood in kennis gestel.

In die lykshuis het sy ‘n blou merk onder Nicole se ken opgemerk, wat glo reeds daar was toe haar lyk gevind is. Volgens die uitslag van die lykskouing is sy verwurg.

Die familie het glo eers later gehoor dat haar vriend in verband met haar moord in hegtenis geneem is.

………… het op 26 Februarie in die landdroshof in Bellville verskyn en is op borgtog van R2000 vrygelaat.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n moordsaak ondersoek word. ………….. moet weer op 7 April in die hof verskyn.

Nicole se suster, Chelsea Bester, het op Facebook gevra dat mense die dag swart aantrek en om 09:00 by die hof byeenkom om geregtigheid vir Nicole te vra.

Chelsea sê in e-pos hulle het vasgestel die saak sal in die hof in Bellville aangehoor word en nie die hooggeregshof, soos hulle ingelig is nie.

“Ons sal nie stilgemaak word nie,” sê sy.

Volgens Nicole se ma woon haar dogtertjie nou by haar biologiese pa.

To Top