Katlego stel eise van R4m. in na video

Die Burger deur Jana Breytenbach

Nadat hy sy werk verloor het, ‘n Safta-benoeming van hom weggeneem is en hy “erge sielkundige skade” gely het, eis die voormalige TV-aanbieder Katlego Maboe nou R4 miljoen van vier mense.

Maboe is sedert verlede jaar deur diep waters nadat ‘n video waarin hy erken hy het ‘n buite-egtelike verhouding gehad op sosiale media uitgelek het en wyd versprei is.

Maboe ontken van die begin af alle aantygings oor gesinsgeweld, skending van beskermingsbevele en aanranding wat teen hom gemaak is. Hy het wel bevestig dat hy een keer ontrou was.

Daarna is hy feitlik elke werk van hom kwyt en alle advertensies van Outsurance waarin hy was, is van die lug gehaal. Ook is sy benoeming vir beste TV-aanbieder in April verlede jaar herroep nadat die organiseerders besluit het om hom te diskwalifiseer.

Nou het Maboe deur sy prokureur aanmaningsbriewe aan vier mense gestuur waarin hy eis dat hulle elkeen R1 miljoen aan hom betaal vir die skade wat hy gely het.

Maboe se prokureur, Andre Jonhson, het by navraag bevestig die briewe is gestuur. “Dit is die eerste stap in ‘n proses,” sê hy.

Die briewe is aan Maboe se voormalige lewensmaat en haar broer gestuur, asook aan Sabrina Walters, stigter van Woman for Change, en dr. Janet van Eeden, oorhoofse voorsitter van die beoordelaars van die Saftas.

Maboe eis dat elkeen van hulle binne drie weke R1 miljoen aan hom moet betaal. As hulle versuim om dit te doen, sal hy die hof met ‘n amptelike eis van skadevergoeding teen hulle nader. Die eis stippel uit presies wat Maboe beweer sy verlies aan inkomste, sy sielkundige skade en die skade aan sy reputasie is.

Die aanmanings aan sy voormalige lewensmaat en haar broer gaan oor opnames en inskrywings wat hulle op sosiale media gedoen het en wat volgens Maboe die hele ding begin het.

Walters het die aanmaning gekry omdat sy glo op 17 Mei verlede jaar veroorsaak het dat ‘n e-pos aan die vervaardigers van die TV-program Expresso en die Nasionale Rolprent-en-videostigting gestuur is waarin sy beweer drie ander vroue het soortgelyke ervarings as sy lewensmaat met Maboe gehad. Dit is toe dat sy benoeming vir die Safta-prys teruggetrek is.

Die aannamingsbrief aan Van Eeden handel oor ‘n onderhoud op eNCA waarin daar sprake van die beweerde drie ander voorvalle was.

Maboe se lewensmaat sê sy stel nie belang om aandag aan die kwessie te gee nie omdat dit ‘n “reklamefoefie deur Maboe se regspan is”. Sy sê sy het nie die brief gekry nie omdat dit na die verkeerde e-pos adres gestuur is.

Haar broer wou nie kommentaar lewer nie.

Walters en Van Eeden het nie op navra gereageer nie.

To Top