Viroloog en nog 5 in hof oor bedrog

Die Burger, Jana Breytenbach

‘n Zimbabwies gebore viroloog van Kaapstad wat glo meer as R50 miljoen gesteel het wat bestem was vir gesondheidsprojekte en vir die bekamping van ernstige siektes in Suid-Afrika het vandeesweek saam met sy medebeskuldigdes in die hof verskyn.

Dr. Alfred Bere het Donderdag saam met Colleen Khumalo, Kharthigasin Govender, Travalyn Govender, Sandile Gwamanda en Yvonne Gwamanda in die handelshof in Bellville verskyn op aanklagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en diefstal.

Bere was die hoof van die Suid-Afrikaanse tak van die Amerkaanse sentrums vir siektebeheer en voorkoming (CDC), ‘n organisasie wat neigings in gemeenskapsgesondheid ondersoek.

Die CDC publiseer belangrike bevindings en statistieke oor gesondheid, maar kan ook spanne mobiliseer om pandemies vinnig te ondersoek en om dit in bedwang te probeer bring.

Bere was onder meer in beheer van die finansiële skenkings van die organisasie en het dit na bewering vir eie gewin aangewend.

Amerika het die geld geskenk en dit moes aan nie-regeringsorganisasies in Suid-Afrika gegee word om te help met die bekamping van tuberkulose en MIV-vigs.

Van die geld is glo wel aan sommige organisasies betaal, maar Bere het hulle na bewering dan gedwing om ‘n ander organisasie as plaasvervanger aan te wys.

Die geld is dan in die plaasvervanger se bankrekening inbetaal, wat dan glo deur Bere self gebruik is.

Die Valke het in Oktober 2017 en Augustus 2018 lasbriewe bekom om sy bankrekenings te ondersoek.

Bere is op 24 Augustus 2018 by die Beitbrug-grenspos na Zimbabwe in hegtenis geneem.

In 2018 het die Valke gesê nog mense kan in hegtenis geneem word, en die res van die beskuldigdes is intussen in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.

Khumalo was die vorige hoof van die klere- en tekstielwerkersvakbond Sactwu se gesondheidsprogram vir werkers.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê van die ander beskuldigdes het ook by Sactwu gewerk. Aanvanklik is geraam dat R25miljoen verlore gegaan het, maar ‘n vollediger ondersoek het aan die lig gebring dat die bedrag meer as R50 miljoen kan wees.

Die saak is tot 24 Augustus uitgestel.

To Top