Kuberkrakers laat veel dieper letsels as finansiële verliese

Rapport / Julian Jansen

Nadat agt vermeende lede van ‘n kuberkrakersindikaat die afgelope week in hegtenis geneem is en voor die hof gebring is, het ‘n jare lange slagoffer van die soort misdaad ‘n effense sug van verligting geslaak.

Louise Heyns (52) sê sy kry nou nog terapie na haar “sielkundige uitmergeling”. “Mense dink dis net geld wat die skurke van jou vat; hulle vat jou hele lewe en om daarvan te herstel sal jare neem. Ek kry angsaanvalle as ek my rekenaar aanskakel.”

Die sindikaat se tentakels het volgens ‘n internasionale ondersoekspan van Parklands, Kaapstad, tot in die Amerikaanse deelstate Texas en New Jersey gestrek.

Heyns sê lede van die ondersoekspan het vir haar gesê nadat die agt verdagted in hegtenis geneem is, het talle ander krakers vliegkaartjies gekoop en landuit gevlug of ten minste hul woonstelle ontruim uit vrees dat hulle ook vasgetrek kan word.

Die Amerikaanse regering gaan aansoek doen dat die agt aan die VSA uitgelewer word om daar tereg te staan op aanklagte van sameswering, bedrog, geldwassery en identiteitsdiefstal.

Hul optrede het slagoffers oor die wêreld heen na bewering tot R100miljoen gekos.

Perry Osagiede, Enorense Izevbiege, Franklin Edosa Osagiede, Osariemen Eric Clement, Collins Owhofasa Otughwor, Musa Mudashiru, Prince Ibeabuchi Mark en Toritseju Gabriel Otubu gaan Dinsdag om borgtog aansoek doen. Eric Ntabazalila, ‘n woordvoerder van die vervolgingsgesag, sê die staat sal dit teenstaan omdat die agt ‘n vlugrisiko is, met elektroniese toerusting kan peuter en sommige onwettig in die land is.

Heyns sê die jare lange teistering het haar al ‘n kenner gemaak en sy het baie oor die sindikate nagelees. Die grootste gros sit in Kaapstad, wat al as “Little Lagos” bekend staan weens die teenwoordigheid van Nigeriese krakers. Hulle is ook by afpersing en dwelmhandel betrokke.

“Hulle is opperste boelies. Hulle kom deur jou WhatsApp, e-pos, Facebook, Instagram, LinkedIn en Skype.”
“Die grootkoppe gebruik veral wit mans wat dwelmverslaaf is om vroue te scam net om geld vir ‘n fix te kry. Hulle teiken ook suksesvolle vroue met ondernemings, wat maklike prooi is aangesien hulle magteloos is om hulself te beskerm.”

Heyns was ‘n suksesvolle sakevrou in Bronkhorstpruit, Gauteng. Toe ‘n transaksie om haar gastehuis aan ‘n gesiene ANC-lid en munisipale amptenaar te verkoop lelik skeefloop en sy R5miljoen in die proses verloor, het  kuberkrakers haar begin teiken.

Sy het uit desperaatheid Kaap toe getrek waar die teistering op verkeie maniere voortgeduur het. Sy is selfs met ontvoering gedreig.

Sy sê in die proses het die Nigeriese sindikaat haar eintlik basies opgelei, want sy moes haarself deurentyd beskerm.

“Ek ken al hul metodes: hoe hulle te werk gaan, van sosiale mediaplatforms na skootrekenaars, google-rekeninge en selfone.”

“Mense dink ‘n wagwoord beskerm jou. Dis ‘n fout. Jou internetprofiel is soos ‘n plek met klomp deure. Die krakers breek slagoffers oor tyd sielkundig af.”

Heyns het die organisasie Sky Women begin om vroue by te staan wat in die kuberruim geboelie word, maar het dit onlangs gesluit omdat die las net te swaar geraak het.

“Scamming is ‘n sielkundige misdaad en die mishandeling is baie erg. Vroue besef dit nie tydens ‘n scam nie…eers nadat hulle besef het wat werklik met hulle gebeur het, is dit al te laat. Die mishandeling is baie erger as die finansiële verlies en slagoffers is letterlik gestrand omdat die polisie skynbaar geen kennis het wat die impak van ‘n scam op al die slagoffers is nie, ook omdat hulle nie opgelei en bevoeg is om kubersake te ondersoek nie.”

“Sosiale media is uiters gevaarlik en veral nou met die COVID-19-pandemie en die inperkings dat kinders aanlyn skooltake moet doen. Kinders gebruik onder meer hul ouers, boetie of ouma se naam as wagwoorde. Dis kinderspeletjies vir die krakers om op die profiele te kom…”

“Die grootste probleem is dat gewonde mense nie die kennis het om hule sosialemediarekeninge, rekenaars, selfone en ander toestelle teen kuberkrakers te beveilig nie”.

To Top