‘Vrou met metaalpyp geslaan, toe gesteek’

Die Burger / Jana Breytenbach

Franziska (Fran) Carter (66) se dogter het haar met ‘n mes in die rug gevind enkele ure nadat sy glo deur haar vervreemde man vermoor is.

Die staat voer aan William Carter (71) het sy vrou met ‘n metaalpyp geslaan en haar toe met ‘n mes in die rug gesteek. Hierna het hy homself luidens die klagstaat geskiet in ‘n poging om die moord te verbloem en voorgegee dat hy en Fran die slagoffers van ‘n huisroof was.

William, wat op borgtog is, het gister vir ‘n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn.

Hy word verteenwoordig deur Ben Mathewson, wat Rob Packham in 2019 verdedig het in die saak waarin Packham uiteindelik skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Jill.

Luidens die opsomming van die wesenlike feite het die egpaar se paaie in 2015 geskei.

William het uit hul huis in die Marina da Gama-veiligheidskompleks in Muizenberg getrek.

Hy is daarna na Amerika en het in Februarie 202 teruggekeer na Suid-Afria om die egskeiding af te handel.

Op 16 Oktober is William na bewering terug na die eiendom en het hy die kothuis op die erf sonder die oorledene se medewete beset.

Op dieselfde aand is hy na die hoofhuis, waar hy luidens die klagstaad Fran vermoor het.

Hierna het hy die toneel verander sodat dit gelyk het asof hulle beroof is. In ‘n poging om soos ‘n slagoffer te lyk, het William homself geskiet.

Hierna het hy na bewering sy minnares gebel en aan haar gesê hy is geskiet.

Die minnares het die egpaar se dogter gebel.

In die vroeë oggendure van 17 Oktober het ‘n veiligheidswag, die dogter en die polisie by die huis aangekom en die oorlede op die kombuisvloer met die mes in die rug gevind.

Die gewonde William het beweer hulle was die slagoffers van ‘n huisroof en hy is na die MediClinic Constantiaberg gebring. Hy was ‘n week in die hospitaal en is die dag toe hy ontslaan is in hegtenis geneem.

Die polisie het verskeie ongerymdhede in sy weergawe gevind nadat hulle die toneel gefynkam het.

Na sy inhegtenisneming het William ‘n verklaring ingedien wat volgens die staat verskil van sy aanvanklike weergawe oor die gebeure.

Regter Mark Sher het die saak gister tot 18 Februarie uitgestel, wanneer ‘n verhoordatum bevestig moet word.

 

To Top