Munisipale amptenare in hof na PPE-bedrog

Die Burger / Marelize Barnard

Drie amptenare van die Cederberg-munisipaliteit is in hegtenis geneem meer as ‘n jaar nadat ‘n ondersoek begin is na beweerde korrupsie met ‘n tender vir persoonlike beskermende toerusting (PPE).

Volgens die munisipaliteit beklee die drie senior poste.

‘n Diesnverskaffer is ook in hegtenis geneem.

Dr. Ruben Richards, die burgermeester, het gisteroggend in ‘n verklaring bevestig dat die vier Vrydag in hegtenis geneem is en dieselfde dag in die Clanwilliam landdroshof verskyn het.

Kol. Andre Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie se handelsmisdaadeenheid het die drie – wat tussen 44 en 60 jaar oud is – in verband met klagte van bedrog en korrupsie in hegtenis geneem.

Die saak is oorgeplaas na die handelshof in Bellville, waar die beskuldigdes weer op 1 Maart volgende jaar moet verskyn.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het in September verlede jaar ‘n klopjag op die munispale kantore in Clanwilliam uitgevoer nadat die munisipaliteit die ondersoek probeer keer het.

Henry Slimmert, die munisipale bestuurder, is op 25 November verlede jaar op aanklag van regsverydeling in hegtenis geneem.

Hy is op borgtog van R20000 vrygelaat en beveel om hom nie by die SOE se ondersoek in te meng nie.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het destyds gesê dit sou nie nodig gewees het vir ‘n klopjag nie, maar die munisipaliteit het die ondersoek probeer keer.

Die SOE het beslag gelê op ‘n skootrekenaar wat die eenheid wou ondersoek vir moontlike bewyse van onreëlmatige transaksies.

Die SOE het aanvanklik beweerde bedrog met die verkryging van PPE by die Matzikama munisipaliteit ondersoek.

Dit het gelei tot die SOE se ondersoek by die Cerderberg munisipaliteit.

Van dieselfde ondernemings wat by tenders vir die Matzikama munisipaliteit betrokke was, het soortgelyke tenders by Cederberg gekry.

To Top