Katlego en eksmeisie kom ooreen om uitgerekte hofstryd te staak

Die Burger / Verslaggewer: Ane van Zyl

‘n Uitgerekte regstryd tussen die TV-aanbieder Katlego Maboe en Monique Muller, sy eksmeisie, het geëindig in ‘n ooreenkoms om nie verder daarmee voort te gaan nie.

Muller het die hof in September 2020 vir ‘n beskermingsbevel teen Maboe gevra en het bewerings van gesinsgeweld teen hom gemaak.

Ongeveer 15 dae later het Maboe ‘n beskermingsbevel teen Muller versoek, ook weens beweerde gesinsgeweld. Dit was die begin van ‘n uitgerekte regstryd.

Die stryd is ontketen toe ‘n video op sosiale media versprei is waarin Maboe glo erken dat hy ontrou aan Muller was.

Muller het vermoedelik die video geneem, maar dit is onduidelik wanneer dit gemaak is en hoe dit op sosiale media beland het. In die video kan die stem gehoor word van ‘n hoogs onstelde vrou wat hom vra of hy ontrou was, waarna Maboe dit erken.

Muller het gister aan Die Burger gesê die afgelope maande is gekenmerk deur baie verskynings in die landdroshof in Kaapstad. Volgens Muller is een van die redes vir die uitgerekte proses dat Maboe herhaaldelik sy regsverteenwoordigers verander het.

“Ons was nog ver van klaar af voordat ons ooreengekom het om die proses stop te sit.”

Muller sê die hofgeding het “groot emosionele en finansiële druk” op haar geplaas en sy kon dit mettertyd nie meer bekostig om ‘n regsverteenwoordiger te betaal nie.

Muller sê ‘n senior landdros, twee ander landdroste, sy, Maboe en sy regspan was teenwoordig toe die ooreenkoms bereik is.

Lerato Maleswena, Maboe se woordvoerder, het Maandagaand ‘n verklaring uitgereik waarin sy onder meer gesê het Maboe is “vrygespreek” van bewerings van gesinsgeweld.

“Mnr. Katlego Maboe is deur die landdroshof vrygespreek van bewerings van beweerde wangedrag wat deur sy voormalige lewensmaat Monique Muller gemaak is.”

Maboe sê in die verklaring:

“Op die oomblik wil ek net daarop fokus om die stukke van lewe weer op te tel.”

Muller sê die bewoording van die verklaring is misleidend en dat Maboe nie vrygespreek is of onskuldig bevind is nie.

Volgens Maleswena is ‘n interdik van Maboe teen Muller se broer, Seth, toegestaan wat Seth verhoed om Maboe te teister. Dit volg na inskrywings van Seth op sosiale media ter verdediging van sys suster.

To Top