Verkragter wat hulp vra met wiskunde mag wel appelleer

Die Burger / Verslaggewer: Johan Brits

‘n Man wat ‘n vrou verkrag en daarna gevra het of sy hom met sy wiskundesomme kan help, mag appelleer teen sy vonnis en skuldigbevinding, het die appelhof in Bloemfontein gelas.

‘n 32-Jarige getroude man is in die streekhof in Parow skuldig bevind aan verkragting, waarvoor hy ‘n vonnis van tien jaar tronkstraf opgelê is, seksuele aanrading (vonnis van twee jaar), poging om ‘n seksuele misdaad te pleeg (vier jaar) en ontbloting (een jaar). Omdat hy die vonnisse gelyklopend uitdien, sal hy altesaam tien jaar agter tralies deurbring.

Die vrou is luidens hofstukke 23 jaar oud.

Die man se vroeëre aansoek in die streekhof om na die hooggeregshof in Kaapstad te appelleer is geweier en hy het hom tot die appelhof gewend.

Die primêre kwessie in die verhoorhof was of die seksuele dade met die vrou se instemming gebeur het. Sy het volgehou dat dit teen haar sin was.

Die dade het op 28 September 2018 in ‘n huis gebeur.

Die vrou het getuig dat die man, wat op die dag van die verkragting op die oorkantste rusbank voor haar gesit het, vreemde gesigsuitdrukkings gemaak het: Hy het sy lippe afgelek en vir haar geknipoog. Sy het dit afgelag omdat sy gedink het dit is laf, lui die hofstukke.

Hy het haar gevra om sy skouer te masseer. Hy het ‘n skouerbesering en sy het sportwetenskap studeer. Sy het al voorheen sy rug gemasseer. Dit het gelei tot die seksuele dade, het sy getuig.

Hy het haar in ‘n stadium daarna gevra of sy hom met sy wiskunde sal help. Wat dit presies behels, word nie in die hofstukke genoem nie.

Die vrou het aanvanklik nie vir sy vrou gesê wat gebeur het nie omdat sy glo geskok was en nie helder kon dink nie – sy was in “autopilot mode“. Sy het wel later aan die vrou gesê dat haar man “ondenkbare dinge aan my gedoen het”.

In die verhoorhof is bevind dat die vrou ‘n indrukwekkende getuie was wat haar getuienis op ‘n duidelike en bevredigende wyse gelewer het.

Die man het nie ‘n gunstige indruk op die hof gemaak nie, is destyds gesê.

Waarnemende appelregter Violet Phatshoane het die appelaansoek toegestaan onder meer op grnde dat die stawing van getuienis waarop die verhoorhof gesteun het onvoldoende was.

Die man het ook die waarheid van die vrou se getuienis in ‘n aantal opsigte betwis, wat die verhoofhof volgens Pharshoane nie oorweeg het nie.

“Ek is van mening dat die beweerde tekortkomings in die ontleding van die getuienis wat aangevoer is daartoe kan lei dat die appelhof redelikerwys tot ‘n ander gevolgtrekkings as die van die verhoorhof kan kom,” het Phatshoane gesê.

To Top