Moordsaak weer uitgestel oor geld

Die Burger / deur Jana Breytenbach

Geld en ‘n gesukkel met regsverteenwoordiging is die redes waarom die moordsaak teen William Carter (71) ‘n vyfde keer uitgestel is.

Carter het gister vir ‘n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn. Hy sukkel reeds sedert sy eerste verskyning om regsverteenwoordiging te bekom.

Adv. Ben Mathewson, sy aanvanklike regsverteenwoordiger, het hom in April aan die saak onttrek omdat arter hom nie kon betaal nie.

Carter het toe by Regshulp SA aansoek gedoen om deur een van hul prokureurs verdedig te word. Sy aansoek is egter van die hand gewys omdat hy nie vir regshulp kwalifiseer nie. ‘n Persoon moet minder as ‘n sekere bedrag verdien om te kwalifiseer, maar Carter voldoen nie hieraan nie.

Agtergrond

Carter, van Muizenberg, word daarvan aangekla dat hy sy vrou, Franziska (Fran) Carter (66), in Oktober verlede jaar met ‘n mes doodgesteek het.

Hy staan tereg op aanklagte van moord en regsverydeling.

Die staat voer aan hy het sy vrou met ‘n metaalpyp geslaan en met ‘n mes in die rug gesteek.

Luidens die klagstaat het hy homself daarna geskiet, blykbaar om die moord te verbloem, en die moordtoneel verander om voor te gee dat hulle die slagoffers van ‘n huisrooftog was.

Luidens die opsomming van wesenlike feite het die egpaar se paaie in 2015 geskei. Carter het uit hul huis in Marina da Gama-veiligheidskompleks getrek en is na Amerika. Hy het in Februarie 2020 teruggekeer na Suid-Afrika om hul egskeiding af te handel.

Op 16 Oktober verlede jaar is hy terug na die eiendom, waar hy glo die kothuis op die erf sonder die slagoffer se medewete beset het. Hy is dieselfde aand na die hoofhuis, waar hy sy vrou na bewering vermoor het.

Carter het na bewering sy minares gebel en gesê hy is geskiet, en die het die egpaar se dogter gebel.

Die dogter, die polisie en ‘n veiligheidswag het op 17 Oktober in die vroeë oggendure by die huis aangekom en die slagoffer op die kombuisvloer met ‘n mes in haar rug gevind.

Carter is in die Mediclinic Constantaiberg opgeneem. Hy was ‘n week in die hospitaal en is in hegtenis geneem op die dag toe hy onstlaan is.

Die polisie het glo verskeie teenstrydighede in sy weergawe van die voorval gevind nadat die toneel gefynkam is.

Na sy inhegtenisneming het Carter ‘n verklaring ingedien wat volgens die staat van sy aanvanklike weergawe van die gebeure verskil.

Voorverhoor

Regter Robert Henney, wat die voorverhoor aangehoor het, het Carter gevra wat hy sedert Mei gedoen het om regsverteenwoordiging te bekom.

Carter het gesê hy is in Junie na die kantoor van Regshulp SA, waar hy ‘n aansoek om hulp ingedien het.

“Ek het vandag gehoor die tweede bladsy van my aansoek met my motivering is weg,” het hy gesê.

Adv. Russell Cloete, namens Regshulp SA, het gesê Carter het die opsie om teen die bevinding van Regshulp SA te appelleer, maar dat hy weer na die kantoor sal moet gaan.

Henney het opdrag gegee dat Carter op 3 Augustus na die kantoor moet gaan om die aansoek af te handel.

Henney het gesê Carter moet alles met betrekking tot sy finansies aan Regshulp SA bekend maak, insluitende sy bates, laste en bankstate.

Carter het aan die hof gesê sy dogter het als y bankrekeninge laat bevries en “die huis verwoes”. Sy het na verneem word uit die Kaap verhuis en praat nie met haar pa nie.

Henney het die saak tot 2 September vir nog ‘n voorverhoor uitgestel sodat Carter regsverteenwoordiging kan bekom.

As hy onsuksesvol is, sal hy homself moet verdedig.

Die verhoor sal na verwagting eers in 2024 begin.

Carter se borgtog is verleng.

To Top