Lid van Valke in hof oor ‘afpersing, korrupsie’

Gerrie Coetzee, WBA, DIE BURGER

Verslaggeefster – Jana Breytenbach en Sapa

KAAPSTAD – ‘n Kaptein van die Valke se handelstak het gister op aanklagte van afpersing en korrupsie in die Kaapstad-landdroshof verskyn. Kapt. Patric Yizaya Siyali (51) van Khayelitsha is Dinsdag deur lede van die Valke se eenheid teen georganiseerde misdaad in hegtenis geneem. Die staatsaanklaer, Denzil Combrink, het ‘n uitstel van sewe dae versoek sodat die beskuldigde se borgtog-inligting bekom kan word. Siyali staan tereg op aanklagte van afpersing, korrupsie, diefstal en sameswering om korrupsie en afpersing te pleeg. Combrink het gesê die staat wag nog op twee verklarings van polisiebeamptes, die uitslag van ‘n foto-identiteitsparade, persoonlike inligting en ‘n tweede verdagte moet ondersoek word. Die verdagte is glo ook ‘n polisieman. Hy wil ook ondersoek instel na ‘n vorige saak van korrupsie teen Siyali wat later teruggetrek is omdat die klaer nooit ‘n verklaring wou aflê nie. Siyali se regsverteenwoordiger, Ross McKernan, het teen die uitstel beswaar gemaak. “Die staat moet bewys dat die aanklagte met meer as R10000 verbind word en dat ‘n sindikaat betrokke kan wees.” McKernan het die beswaar teruggetrek toe Combrink gesê het ‘n bedrag van R300000 en ‘n sindikaat wat met ‘n finansiële skema verbind word, word ondersoek. Landdros Zwelidumile Sogwagwa het die saak tot 5 Julie uitgestel sodat die staat die nodige borgtog-inligting kan bekom. Siyali, wat die afgelope 28 jaar ‘n polisieman is, word by die Bellville-polisiekantoor aangehou.

To Top