Lasbrief vir Gerrie Coetzee na hy nie by hof opdaag

DIE BURGER

Verslaggeefster – Jana Breytenbach

KAAPSTAD – ‘n Lasbrief vir die inhegtenisneming van Gerrie Coetzee, ‘n voormalige wêreldbokskampioen, is gister uitgereik nadat hy versuim het om by die hof op te daag. Die oudswaargewigbokser het glo weens mediese redes nie gister by die Kaapstadlanddroshof opgedaag toe hy daar moes verskyn nie. Die staat voer aan Coetzee het valstande vervaardig sonder dat hy as ‘n tandtegnikus by die Suid-Afrikaans Tandheelkundige Vereniging geregistreer was. Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met die registrasievereistes vir iemand wat as ‘n tandtegnikus werk. Luidens die klagstaat het Coetzee in Oktober 2010 onwettig as ‘n tandtegnikus gepraktiseer in sy praktyk in Flamingovlei, Table View. Volgens die staat het Coetzee nie die wettige permitte gehad om die werk te doen nie. Joshua Greeff, Coetzee se regsverteenwoordiger, het gesê sy kliënt is nie by die hof nie weens mediese redes, maar dat hulle reëlings met die vorige staatsaanklaer getref het. Landdros Jushree Steyn het die saak tot 7 September uitgestel en die lasbrief oorgehou tot dan.

* Coetzee was die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n wêreldswaargewigtitel verower het – die van die Wêreldboksvereniging (WBA) toe hy die Amerkaner Michael Dokes in 1983 verslaan het.

To Top