Man in Hof na twee se dood in taxi

VERSLAGGEEFSTER: JANA BREYTENBACH

KAAPSTAD – Twee dae nadat ‘n jong ma in ‘n taxi doodgeskiet is, is die vermeende moordenaar in verband met ‘n onverwante misdaad in Muizenberg in hegtenis geneem. Alroy Simon (27) van die buurt Capricorn, naby Muizenberg, is ‘n week gelede deur die polisie aangekeer toe hy na bewering iemand se selfoon probeer steel het. Simon het Maandag in die Wynberg-landdroshof op ‘n aanklag van roof verskyn, maar die saak is uitgestel. Intussen het die polisie inligting van twee ooggetuies ontvang dat Simon die man is wat Leslyn Mentor (24) glo verlede Dinsdag doodgeskiet het. Die beskuldigde het gister op twee aanklagtes van moord in die Wynberg-landdroshof verskyn. Die staatsaanklaer, Kagiso Kraai, het gesê die skietvoorval waarin twee mense dood is, is bendeverwant. Kraai het gesê Simon is ‘n vermeende lid van die Junky Funky Kids-bende. Die skietery het omstreeks 08:30 in Concert Boulevard naby die taxistaanplek in Retreat plaasgevind. “Simon het glo op die taxi begin skiet waarin daar passasiers was. Twee mense is dood,” het Kraai gesê. Mentor was op pad werk toe vir die eerste keer nadat sy op kraamverlof was. Sy het agter die bestuurder van die taxi gesit. Voor, langs die bestuurder, het ‘n ander passasier (30) gesit. Die passasier is glo ‘n lid van die Corner Boys-bende. Die skietery was op hom gemik, het Kraai gesê. Die bestuurder van die taxi het na die skietery van die toneel gevlug. Mentor is in die kop, wang en middellyf getref. Sy was ‘n kassier by ‘n geriefswinkel in Plumstead. ‘n Familielid het verlede week aan Die Burger gesê Mentor het besluit om haar kraamverlof kort te knip en vroeer te gaan werk. “Nou is haar vyf maande oue baba sonder ‘n ma.” Die saak is tot 4 Februarie uitgestel.

To Top