Man in hof wat glo met kar in toeriste injaag

Die Burger artikel deur Jana Breytenbach

Die man wat na bewering ‘n week gelede met sy voertuig in ‘n groep toeriste in Blouberg ingejaag het, het Maandag in die hof verskyn, berig News24.

Darrel Kevin Fouter (27) van Bloubergstrand het op klagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur en dronkbestuur in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

Kapt. Johan von Wielligh, ondersoekbeampte van die Table View polisiekantoor, het aan News24 gesê Fouter is op borgtog van R5000 vrygelaat.

Sy paspoort is ook aan die polisie oorhandig.

Die saak is tot 7 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.

Von Wielligh sê een van die toeriste is steeds in die hospitaal, maar sal moontlik binnekort ontslaan word.

Die voorval het in Arumweg plaasgevind toe Fouter na bewering met sy voertuig in ‘n groep toeriste ingeploeg het.

‘n 19-Jarige man van Swede in in die voorval dood. Die res van die groep is almal van 18 tot 35 jaar oud en afkomstig van onder meer Nederland, Israel, Denemarke en Swede.

Kapt. Adriana Chandler, polisiewoordvoerder, sê ‘n ooggetuie het die motor een ‘n hoë spoed sien ry en gesien hoe dit die ses toeriste, wat op die sypaadjie geloop het, tref.

To Top