Polisie slaan groot slag in vyf operasies

Perlemoenhandelaars vasgetrek

Die Burger artikel deur Malherbe Nienaber

Die Wes-Kaapse polisie het Donderdag in vyf verskillende operasies op onwettige perlemoenhandelaars toegeslaan waartydens nog vier mense die middag met R9 miljoen se perlemoen betrap is.

Polisiebeamptes is Donderdagmiddag in hul ondersoek na ‘n pakhuis in Killarney Gardens waar twee Chinese burgers (onderskeidelik 31 en 48 jaar) met R6 miljoen se perlemoen in hul besit in hegtenis geneem is.

Lt.kol. Andre Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gisteroggend bevestig dat daar op 27182 gedroogte en 1551 vars perlemoene beslag gelê is.

Verskeie houers, kartondose, kratte, weegskale en ‘n vurkhyser is op die perseel gevind.

Van daar is die polisie na ‘n pakhuis in Essostraat, Montague Gardens, waar nog ‘n onwettige perlemoenverwerkings aanleg gevind is.

Kratte met 12266 perlemoene met ‘n geskatte waarde van R3 miljoen in ‘n koelkamer is op beslag gelê. Die polisie het ook twee Malawiese mans (onderskeidelik 26 en 33 jaar) in hegtenis geneem.

Al vier die mans sal Maandag in die landdroshof in Kaapstad verskyn in verband met klagte van die onwettige besit van perlemoen.

Donderdagoggend het twee polisielede ‘n motor in Parklands, Table View, opgemerk wat na bewering roekeloos in Linkweg gery het.

Die wit Toyota Corolla is om 01:30 agternagesit nadat die bestuurder glo nie padtekens gehoorsaam het nie terwyl hy op die N7 in die rigting van Malmesbury gejaag het.

Die motor is later gevind en ses mans is na ‘n soektog in hegtenis geneem. Altesaam 821 perlemoene met ‘n geraamde waarde van R120000 is in hul besit gevind.

Dieselfde oggend het die polisie gereageer op inligting oor ‘n verdag Nissan-bakkie wat in Rielpoelweg, Napier, in die Overberg-distrik opgemerk is.

Vier mans is in hegtenis geneem nadat 7480 perlemoene ter waarde van R1miljoen in die voertuig gevind is.

Drie van die mans is van Belhar en een van Buffelsjagsrivier naby Swellendam. Hulle is onderskeidelik 28, 30, 33 en 44 jaar oud. Hulle verskyn binnekort in die landdroshof op Bredasdorp.

Later Donderdagoggend het die polisie ook in Welgemoed, Parow, toegeslaan nadat hulle ‘n wenk ontvang het dat perlemoen aan ‘n Chinese man afgelewer word.

Vier mans is in hegtenis geneem, onder wie ‘n polisiekonstabel van Kuilsrivier.

Talle sakke perlemoen is na bewering in die kattebak van die polisielid se private motor gevind. Beslag is gelê op 2428 perlemoene met ‘n geskatte waarde van R350000.

  • Die polisie het Maandag ook twee Chinese burgers in Houtbaai in hegtenis geneem nadat hulle ‘n rugsak met verwerkte renosterhoring en ivoor van R60000 glo by ‘n restaurant agtergelaat het. Hulle is aangekeer nadat hulle Maandag na die restaurant teruggekeer het om die sak te gaan haal.
To Top