Taxistaanplek gesluit oor geweld

Die Burger, artikel deur Shantel Moses

‘n Sterk polisieteenwoordigheid word in Delft gehandhaaf nadat taxigeweld vandeesweek weer kookpunt bereik het nadat bestuurders verbonde aan die Kaapse geamalgameerde taxivereniging (Cata) deur gewapende polisielede en “onwettige” taxibestuurders gekonfronteer is.

Sowat 150 bestuurders en taxi-eienaars is deur die polisie versoek om voorlopig nie van die taxistaanplek in Delft-Suid te werk nie.

Twee bestuurders is die afgelope twee weke doodgeskiet en nog een is in ‘n skietery gewond.

In die mees onlangse geval is ‘n Cata-taxi met klippe bestook, waarna hy teen ‘n bus gebots het. Dit het Woensdagoggend in Lansdownweg gebeur.

Volgens Victor Wiwi, voorsitter van Cata, het die geweld uitgebreek nadat ‘n klein groepie bestuurders van Delft wat nie lede van die vereniging is nie Cata se staanplek wou oorneem.

“Die bestuurders hou vol dat die staanplek en taxiroete aan hulle toegeken moet word omdat hulle van Delft is. Hulle is onwettig op die pad en het nie permitte om mense te vervoer nie. Hulle kan nie net hul eie reëls maak nie.”

Kapt. FC van Wyk, ‘n polisiewoordvoerder, het gister gesê die gebied is rustig na polisieoptrede daar.

“Ons het vroeg in Maart met die operasies begin. Twee mense is reeds in hegtenis geneem. Ons het ook op tien vuurwapens, nege magasyne en dwelms beslag gelY. Ons het 1820 beotes opgelê en 32 taxi’s geskut.”

Daar was vandeesweek ‘n sterk polisieteenwoordigheid in Delft, hoewel die Cata-taxi’s nie in die gebied gery het nie.

Duisende pendelaars moes ander voervoer soek.

Cata se roetes uit Delft sluit in roetes na die middestad, Langa, Wynberg, Epping en Nyanga.

Volgens Donald Grant, Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, werk sy kantoor nou saam met die polisie, die Stad Kaapstad en die verkeersdepartement om die kwessie van taxigeweld in Delft op te los.

“Ek was van plan om ‘n kennisgewing in die Staatskoerant te plaas om Delft ingevolge die Nasionale Vervoerwet tot ‘n hoërrisikogebied vir openbare vervoer te verklaar.

“As die gebied tot ‘n hoërisikogebied verklaar word, sal bedryfspermitte opgeskort en sekere staanplekke gesluit word.”

Volgens Grant sal hy egter nie nou al sulke drastiese stappe doen nie.

“My departement het intussen ‘n groep gesoute bemiddelaars aangestel om met alle partye te onderhandel om ‘n oplossing te vind.”

Die Golden Arrow-busdiens gebruik as voorsorgmaatreël ‘n effens ander roete uit Delft, sê John Dammart, ‘n woordvoerder van die busmaatskappy.

“Die beiligheid van ons passasiers en bestuurders bly ons prioriteit en ons hou ‘n oog daarop.”

To Top