Misdaadgeskiedenis jou voorland as jy regulasies oortree

Die Burger

‘n Misdaadgeskiendenis weens die oortreding van die rampbestuurregulasies sal ernstige gevolge vir mense se toekoms inhou, waarsku kenners.

Dit volg nadat Bheki Cele, minister van polisie, gister opnur gemaan het dat almal wat van die rampbestuurregulasies aangekla word ‘n misdaadgeskienis kan kry.

“Sedert Maart verlede jaar is 465089 mense aangekla dat hulle die Wet op Rampbestuur oortree het. En jy moet onthou, van nou af sal al die mense wat daar aangekla is ‘n misdaadgeskienis hê,” sê Cele.

Hy het gepraat op ‘n media konferensie waar ministers op die nasionale koronavirusbevelsraad oor die nuwe regulasies uitgebrei het. Dit is sedert Maandag van krag.

Cele sê wetstoepassers is opgewasse vir die taak om toe te sien dat die regulasies oor die volgende twee weke nagekom word, hoewel dit nie hul doel is “om mense op groot skaal te kriminaliseer nie”.

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het by navraag gesê mense wat beken dat hulle die Wet op Rampbestuur oortree het, sal onmiddellik ‘n misdaadgeskiedenis hê.

As mense nie skuld beken nie, sal hulle voor die hof gedaag word.

“As hulle skuldig bevind word, sal hulle ‘n misdaadgeskiendenis hê. As hulle onskuldig bevind word, sal alle aanklagte teen hulle teruggetrek word,” sê Themba.

Mense kan weens die oortreding van die regulasies boonop ‘n boete en/of tronkstraf van tot ses maande opgelê word.

Michael Bagraim, DA-LP en arbeidsregkenner, sê baie werkgewers gaan kyk of iemand ‘n misdaadgeskiendenis het en sal nie die betrokke persoon aanstel as hy een het nie.

“As iemand na ‘n ander land soos die VSA wil emigreer, sal ‘n misdaadgeskiedenis hom ook kelder.”

Bagraim het ook die regering gekritiseer vir sy harde benadering om die inperking af te dwing.

“As jou masker oor jou neus glip, kan jy ‘n misdaadgeskienis kry. Dit is mos belaglik. Pleks dat die regering die publiek met ‘n stok wil bykom en hulle straf, moet hulle eerder fokus daarop om mense op te voed,” sê hy.

Cele het gesê hy vertrou mense sal nou meer as voorheen die regulasies nakom. Maar as hulle dit oortree, moet hulle weet die polisie sal optree.

Mense moet vir die volgende twee weke hul maskers in die openbaar dra, die aandklokreël van 21:00 tot 04:00 gehoorsaam, nie deel van byeenkomste wees nie en ‘n gesonde afstand by begrafnisse handhaaf waar net 50 mense of minder mag wees.

To Top