Man aangekeer oor perlemoen

Die Burger

‘n Man is Dinsdag in Edgemead, Kaapstad, voorgekeer met perlemoen met ‘n geraamde waarde van sowat R1,7 miljoen in sy besit.

Die Valke het die middag gesê sy eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, die honde-eenheid en amptenare van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye het in Gideon Malherbe-singel toegeslaan op ‘n huis waar perlemoen geberg en verwerk is.

Daar is op 4817 stukke perlemoen in ‘n huis in die woonbuurt beslag gelê wat altesaam 245kg weeg.

Op foto’s wat die Valke beskikbaar gestel het, kan verskeie droograkke met perlemoen, ‘n waaier en ander toerusting gesien word.

Die verdagte sal vandag in die Goodwood-landdroshof verskyn en ‘n addisionele klag van die oortreding van die Wet op Immigrasie sal daarby gevoeg word.

To Top