Nog 2 vas oor R400 m. se kokaïen in vragmotor

Die Burger – Ane van Zyl

Twee mans wat betrek word by die reuse-kokaienvonds van R400 miljoen wat die polisie in Augustus verlede jaar gemaak het, verskyn vandag in die Ahtlone-landdroshof.

Die polisie het ‘n wenk oor die dwelms ontvang en die vragmotor naby die Engen Winelands-vulstasie op die N1-hoofweg voorgekeer.

Die kokaien was onder houtplanke in die vragmotor versteek.

Ebrahim Kara (39), Meshack Mzungezi Ngobese (47) en Elias Radebe (42) was in die voertuig en is in hegtenis geneem.

Verdere ondersoeke het die polisie gelei na die twee nuwe beskuldigdes, wat Maandagaand by hul wonings in onderskeidelik Bonteheuwel en Delft vasgetrek is.

Hulle is gister na die landdroshof in Athlone geneem, maar het nie verskyn nie.

Kara, Ngobese en Radebe is aangekla van dwelmhandel en is sedert hul inhegtenisneming in aanhouding.

Die drie sal na verwagting weer op 17 Februarie in die streekhof in Khayelitsha verskyn.

To Top