Nog ‘n dwelmaanleg gevind

ARTIKEL DEUR MALHERBE NIENABER, DIE BURGER

KAAPSTAD – Nog ‘n aanleg waar dwelms en medisyne vervaardig word, is gister in ‘n veiligheidskompleks in Durbanville gevind. Slegs twee dae nadat ‘n klopjag op ‘n daggakwekery in die voorstad uitgevoer is, het die polisie ‘n aanleg geteiken waar medisyne glo onwettig vervaardig word. Die polisie het spore van heroien gevind in pakkies wat vir die buiteland bestem was en dit het hulle na ‘n huis in die kompleks gelei. Daar is om 10:00 op verskeie toerusting en chemikalieë beslag gelê en ‘n Nederlandse man (55) is in hegtenis geneem. Teen druktyd was dit onbekend in watter woonbuurt en kompleks die huis is. Die grenspolisie by die Kaapstadse Internasionale Lughawe het opgemerk dat verdagte pakkies na verskeie bestemmings in die buiteland gestuur word. ‘n Ontleding het aangedui dat die pakkies heroien bevat en dit is teruggehou vir verdere toetse. Kapt. Frederick van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het later vasgestel dat die pakkies ‘n “onwettige middel soortgelyk aan heroien” bevat. ‘n Polisie-operasie is in samewerking met die metropolisie, Suid-Afrikaanse Inkomstediens, departement van handel en nywerheid en Suid-Afrikaanse Medisynebeheerrad by die huis uitgevoer. “Allerlei toerusting, glasbuise en houers, sowel as verskeie chemikalieë is in twee kamers op die perseel gevind,” het van Wyk gesê. Hy kon teen druktyd gisteraand nie bevestig in watter straat of kompleks die huis geleë is nie. Die man wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn.

Die polisie het Dinsdag ook ‘n man (27) en ‘n vrou (28) in Sonstraalhoogte in hegtenis geneem nadat verskeie daggaplante en toerusting om dit hidroponies te groei, gevind is. ‘n Klopjag is vroegoggend op ‘n huis in die komleks Hamlet’s Place uitgevoer waar die polisie ook dwelms van sowat R500000 beslag gelê het.

To Top