Daggakwekery in huis gevind

ARTIKEL DEUR MALHERBE NIENABER / DIE BURGER

KAAPSTAD – ‘n Wenk oor ‘n “dagga-laboratorium” het die polisie gisteroggend vroeg na ‘n veiligheidskompleks in Durbanville gelei waar hulle op talle daggaplante, dwelms en toerusting afgekom het. ‘n Man en vrou in hul laat twintigs is in die huis in sonstraalhoogte in hegtenis geneem in verband met dwelmverwante klagte en sal binnekort in die Bellville-landdroshof verskyn. Daar was toerusting om dagga hidroponies te kweek, asook daggaplante, gedroogte dagga en ander dwelms ter waarde van ongeveer R500000, asook ‘n groot bedrag kontant in die huis. Die polisie het om 04:30 gereageer op inligting oor dwelmverwante bedrywighede in die kompleks Hamlet’s Place in Toscasingel, het kapt. Frederick van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, gesê. Dan Plato, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het die polisie se klopjag verwelkom en ‘n beroep gedoen dat hy voortgaan om die Wes-Kaap se dwelmprobleem aan te pak. Die Wes-Kaap teken byna drie keer soveel dwelmverwante misdade per 100000 mense as die nasionale gemiddelde aan, het hy gesê. “Die dwelmprobleem in die provinsie is dus ‘n geweldige probleem wat alle gemeenskappe raak.” In die vorige boekjaar het die provinsiale departement ook dwelmverwante misdade as een van die Kraaifontein-polisiekluster (wat Durbanville insluit) se grootste prioriteite beskryf. Dit is nog nie bekend op watter dwelms die polisie alles beslag gelê het nie, het van Wyk gesê. Hidroponiese groeimetodes behels dat plante met water en voedingstowwe gekweek word en benodig geen grond nie. Dit laat groeiers toe om hul plante binneshuis te hou en die omgewing waarin dit groei fyn te beheer. Daarby groei hidroponiese plante ook vinniger as gewone plante en word ‘n kleiner oppervalk daarvoor benodig, wat dit aantreklik vir onwettige kwekers maak.

To Top