R4 Miljoen se dwelms gekry

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MAYGENE DE WEE

KAAPSTAD – Die dwelms waarop gisteroggend in Ottery beslag gelê is, is ‘n groot vonds vir die polisie en ‘n groot terugslag vir dwelmsmouse. So het die Wes-Kaapse polisie gister gesê na die suksesvolle optrede teen dwelmhandelaars. ‘n Provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Andre Traut, het gesê polisiebeamptes het Woensdag in die vroeë oggendure ‘n silwer Hyundai in Grassy Park opgemerk. Die voertuig het verdag gelyk. Die bestuurder het glo probeer wegjaag toe hy die polisie opmerk. Die voertuig is na ‘n kort jaagtog deur Grassy Park se strate in Ottery ingehaal en van die pad getrek. Volgens Traut het die polisieeamptes die voertuig deursoek en op die dwelms – tik, Mandrax, dagga en kokaien – beslag gelê. Volgens Traut het die dwelms ‘n geskatte straatwaarde van sowat R4 miljoen. ‘n Man (32) van Delft is in hegtenis geneem. Daar is ook geld in die voertuig gevind. Volgens Traut sal die man binnekort in die Wynberglanddroshof op aanklag van handel in dwelms verskyn.

To Top