Osi’s Place se dranklisensie tydelik opgeskort

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR MARELIZE BARNARD

KAAPSTAD – Die eienaar van die kroeg Osi’s Place in Khayelitsha waar agt meisies in ‘n stormloop dood is, het ingestem dat die kuierplek se dranklisensie tydelik opgeskort word. Die Wes-Kaapse Dranktribunaal het gisteroggend ‘n dringende aansoek deur die provinsiale drankowerheid aangehoor oor die moontlike opskorting van die kroeg se dranklisensie. Adv. Jantjie van Niekerk, wat die eienaar van Osi’s Place verteenwoordig, het gesê hulle stem in dat die dranklisensie tydelik opgeskort word totdat ‘n amptelike aansoek op 17 Augustus aangehoor word. Die aanklaer was Johan Smit. Vincent Bergh, voorsitter van die tribunaal, het uitgewys dat die tribunaal nie ‘n hof is nie, maar ‘n administratiewe liggaam ingevolge die Drankwet. ‘n Groep gaste het verlede Maandagoggend omstreeks 03:00 by Osi’s Place in Makhaza teen die trap van die boonste verdieping na die grondverdieping afgeklim. Nog ‘n groep was op pad boontoe. Die trapreëling het onder die gewig van die mense meegegee en ineengestort. Die agt meisies wat in die proses gesterf het, was tussen 15 en 23 jaar oud. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese aangeleenthede, het in ‘n verskaring gesê hy verwelkom die tydelike opskorting van Osi’s Place se dranklisensie. “Dit is ‘n waarskuwing aan drankhandelaars wie se optrede die gemeenskappe in die Wes-Kaap skade berokken. Ons sal nie onverantwoordelike gedrag toelaat nie en sal daadwerklik optree,” het Winde gesê. Hy het gevra dat manse saamwerk om te keer dat gelisensieerde drankhandelaars die wet oortree. Mense wat onwettige gedrag deur ‘n gelisensieerde handelaar wil aanmeld, kan 0212049700 skakel.

To Top