Talle greot 8 meisies na sjebien-ramp

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR ALET JANSE VAN RENSBURG

KAAPSTAD – Sowat 1000 mense was gister in Makhaza, Khayelitsha, byeen om van die agt meisies wat verlede week in ‘n stormloop by ‘n sjebien hier dood is, afskeid te neem. Ongezeva Ndaba, Asisipho Dana, Ongeziwe Xekethwana, Vuolwethu Mbono, Anathi Zokufa, Bongeka Cekiso, Abulele Mkophu en Zimkhithe Malinge is verlede Maandag in die vroeë oggendure dood toe die sjebien se trap onder hulle ingegee het. Die meisies was almal tussen 15 en 23 jaar oud en het onder meer in Khayelitsha, Groenpunt en Mfuleni skool gegaan. “Dis moeilik om hieroor te praat. Ons kan steeds nie glo wat gebeur het nie. Sy was ‘n pragtige kind,” het Nontsikelelo Dana, ma van Asisipho (17), gesê terwyl sy die trane afgevee het. Sy het kort na die nuus van haar dogter se dood ‘n beroerte gehad. “Daar is niemand in ons huishouding wat ‘n werk het nie. Ons hoop deur die genade van God ons sal vir ‘n begrafnis kan betaal.” ‘n Groep gaste het verlede Maandagoggend omstreeks 03:00 by Osi’s Place in Makhaza by die trappe van die boonste verdieping na die grondverdieping afgeklim. Nog ‘n groep was op pad boontoe. Die trapreëling het onder die gewig van die mense meegegee en ineengestort. Ndithini Tyhido, voorsitter van die Khayelitsha-ontwikkelingsforum, wat gister se gedenkdiens by die Sedondêre Skool Chris Hani gereël het, het gesê die groter kwessie is dat daar nie veilige plekke in Khayetisha is vir jongmense om te kuier nie. “Weet jy, daar is nie eens ‘n filmteater hier waarheen kinders kan gaan nie? Wat moet hulle doen, het hy gevra. Vuyo Ndaba van die burgerlike organisasie Sanco het gesê hulle praat met die slagoffers se families, asook met die eienaar van Osi’s Place, wat glo aangebied het om ‘n donasie vir begrafnisreëlings te maak. Die sjebien is intussen tydelik gesluit. “Dit was verskriklik,” het Fezeka Zokufa (18) gesê. “Ons het ons vriende gedra tot by ‘n motor waarmee ons hulle hospitaal toe gevat het. Ons is so hartseer.”

To Top