Polisie beinvloed glo Petersen-verklarings

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Kaapstad – Twee van mev. Najwa Petersen se medebeskuldigdes betwis die geldigheid van die verklarings wat hulle na hul inhegtenisneming aan die polisie gemaak het omdat die polisie hulle glo beinvloed het. Mnre. Wallied Hassen en Jefferson Snyders, wat elk voorheen ‘n verklaring afgelê het waarin hulle glo hul betrokkenheid by die moord uitstippel, beweer die verklarings is nie vrywillig gemaak nie. Hofgangers wat gister hof 1 in die hooggeregshof hier volgepak het, het gehoor Hassen beweer hy is deur die polisiebeampte wat hom in hegtenis geneem het, ene insp. Mashaba, aangerand en gedreig. Hassen se regsverteenwoordiger, adv. Patrick Scott, het aan regter Siraj Desai gesê “die verklaring was nie vrywillig nie”. Ook adv. Roelf Konstabel, vir mnr. Jefferson Snyders, het gesê sy kliënt se verklaring is nie uit sy eie gemaak nie. “My kliënt is onbehoorlik beinvloed deur ene kapt. Morris. Volgens die beskuldigde is hy deur Morris gesê dat hy later ligter van die saak sou afkom. Daar is aan hom gesê indien hy dit nie doen nie, sal die gevolge verswarend wees.” Konstabel het verder aangevoer dat Snyders beweer van sy regte – spesifiek sy reg op regsverteenwoordiging – is nie behoorlik aan hom verduidelik nie. “Daar is gesê hy kan regsverteenwoordiging kry, maar nie verduidelik hoe nie.” Petersen ontken saam met die beskuldigdes en mnr. Abdoer Emjedi skuld op die moord op haar musiek-legende-man Taliep Petersen. ‘n Groot platskermtelevisiestel het gister in die hofsaal gestaan. Die staat het vroeër gesê Hassen en Snyders se bekentenisse is op videoband vasgelê. Niks is egter op die televisie vertoon nie. Adv. Susan Galloway, vir die staat, het aan Desai gesê Scott het die name van die beamptes eers Dinsdag aan die staat oorhandig. Die staat wil nou eers met die beamptes konsulteer. Die hof het gehoor daar is twee verklarings elk deur Hassen en Snyders gemaak. Hassen het glo ook ‘n uitwysing gemaak. Die Burger het vroeër berig die twee het op 19 Junie 2007 elk ‘n verklaring afgelê waarin hulle glo hul betrokkenheid by die moord erken. Die saak is tot môre uitgestel.

To Top