Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

BESKULDIGDE WYS VINGER NA TALIEP SE WEDUWEE

KAAPSTAD – Enkele minute nadat Taliep Petersen sy laaste gebedskreet, “Allah al Akbar” (God is groot), geuiter het, het ‘n smekende mev. Najwa Petersen by een van die aanvallers daarop aangedring dat hy nog dieselfde aan geskiet word. Die bewering, in ‘n verlaring van een van haar medebeskuldigdes, mnr. Jefferson Snyders, het gister skokgolwe deur die hooggeregshof hier gestuur nadat ‘n staatsaanklaer dit voorgelees het. Snyders het vroeër vandeesweek aangevoer hy is deur die polisie beinvloed om hierdie verklaring af te lê. Gister het Snyders se regsverteenwoordiger, adv. Roelf Konstabel, egter aan regter Siraj Desai gesê sy kliënt plaas nie meer die toelaatbaarheid van sy verklaring in geskil nie. Die verklaring is daarna as ‘n bewysstuk ingedien. Petersen en haar medebeskuldigdes ontken skuld op aanklag van die moord op Taliep. Luidens die verklaring het mnr. Walleed Hassen, een van die beskuldigdes, die aand van 16 Desember net aan Snyders gesê: “Man, ons het ‘n job.” Die hek sowel as die voordeur van die Petersen-woning het oopgestaan toe die twee daar aankom. Taliep het “half skuins agteroor gelê en televisie kyk” toe Snyders by die trappe opgegaan het. “Hy (Taliep) wou hardloop, maar toe keer ek hom. Ek het hom beveel om stil te bly en vir hom gesê ons kom maar net ‘n robbery doen.” Luidens sy verklaring het mev. Petersen op hierdie oomblik in die voorkamer ingekom, waar Snyders haar wou vasbind, maar toe net geklap het. Een van die ander mans het na bewering aan hom gesê: “Nie sy nie, dis die persoon wat die inligting van die huis gegee het.” Die verklaring lui verder: “Sy (Petersen) en Walleed het na ‘n ander deel van die huis gegaan. Terwyl ek daar by Taliep gesit het, het ek hom herken en ek het nog my woord daardie aan vir hom gegee dat daar niks daardie aand met hom sal gebeur nie. Ek het die erns op sy gesig gesien en hy het begin bid. “Sy woorde was ‘Allah al Akbar’. Ek het besef dat hy weet dat hy vanaand doodgaan, dis hoekom hy vrede gemaak het met sy God en sy God genader het.” Volgens Snyders het “die vrou” half smekend gesê: “Hy moet vanaand geskiet word.” Sy het herhaaldelik gesê “hy moet geskiet word”. “Taliep het daar gelê en na my gekyk asof ek my woorde teenoor hom teruggetrek het. Ek is by die stairs af, na die bakkie toe en boem! toe hoor ek ‘n skoot. “Ek weet nie wie hom daardie aand geskiet het nie.” Snyders sê hy en Hassen het nooit bespreek wat daardie aand gebeur het nie. “Ek is vandag bly dat ek my gedagtes kon clear met die gereg en ek weet dat baie mense wat gebid het, se gebede beantwoord is.” Konstabel, sy regsverteenwoordeiger, het na die tyd aan Die Burger gesê hy kan nie redes gee waarom sy kliënt sy besluit verander het nie.

To Top