‘Ek het Taliep vermoor’

NAJWA ‘GEE JUDAS-DRUK’

DIE BURGER

Verslaggewer – Carryn-Ann Nel

KAAPSTAD – In ‘n dag van drama het die trane gister in die hooggeregshof hier gevloei toe een van die mans wat van die moord op Taliep Petersen beskuldig word, in ‘n opspraakwekkende wending skielik skuldig gepleit het. Die hof het ook gehoor dat Taliep in sy laaste oomblikke moes besef het dat sy vrou, mev. Najwa Petersen, by sy moord betrokke was. In kruisondervraging in die binneverhoor waarin hy die toelaatbaarheid van sy verklaring aan die polisie betwis het, het mnr. Waheed Hassen (35), een van mev. Petersen se medebeskuldigdes, uit die bloute gesê hy wil dit graag aan die hof stel hy het ‘n fout begaan en wil nou skuldig pleit. Regter Siraj Desai het dadelik gesê dit is ‘n belangrike besluit en die hof moet tydelik verdaag sodat Hassen sy advokaat kan raadpleeg. Na die verdaging het Hassen sy hand op sy hart gesit en dit daarna uitgestrek na familielede in die openbare galery. Van die vroue in die galery het begin huil. Die hoogdrama is hervat toe die hof na ‘n halfuur weer in sitting was om twee verklarings van Hassen, wat gister by die hof ingedien en voorgelees is, aan te hoor. Taliep moe sin sy laaste oomblikke besef het sy vrou is betrokke, het die hof gehoor. Sy familie het gehuil toe die deel van een van Hassen se verklarings voorgelees is. Volgens Hassen het mev. Petersen, nadat hy en mnr. Jefferson Snyders, ‘n medebeskuldigde, Taliep oorrompel het, uit ‘n slaapkamer geloer en haar by die twee mans aangesluit. “Sy het hom (Taliep) gegryp en gedruk, asof dit die laaste afskeid was. Trane het uit sy oë gevloei toe hy besef sy was deel van die hele ding. Maar wat vir my vreemd gelyk het, met al die drama wat ontvou het, was dat hy haar ‘n kopstamp gegee het, so asof hy haar nie naby hom wou hê nie,” lui Hassan se verklaring. Volgens Hassen was hy seker dat “Boeta Taliep”, wat soos “‘n lam ter slagting gelê het, kon hoor dat sy vrou sê hy moet nog dieselfde aand geskiet word. Terwyl Hassen deur die huis beweeg het, het mev. Petersen “lastig” begin raak en daarop aangedring hy moet dit nou doen. Sy het glo hierna voor Taliep gepleit: “Mag die Almagtige Allah sy graf wyd maak en hom hemel toe stuur.” Hassen en Snyders het ook gister trane uit hul oë gevee. In sy verklaring sê Hassen hy het die “verskriklike daad” gepleeg weens geldgierigheid. “Dit was toe aan die einde van die dag nie werd gewees om enigiets te koop met die geld (R18000) nie.” Die opdrag van mnr. Fahiem Hendricks (vir wie mev. Petersen glo gevra het om die moord te reël) was dat hy (Hendricks) ‘n vriendin met ‘n krisis gehad het wat onder die mishandeling van haar man gely het en dat Taliep daarop vermoor moes word. Volgens Hassen was hy met sy aankoms by die Petersen-woning ‘n oomblik steeds huiwerig omdat hy die moontlikhede deurdink het. Hy was bang vir Taliep “omdat sy geloof soveel sterker as myne was”. “Hy was nie die man wat Fahiem hom uitgemaak het (wat sy vrou sou geslaan het) nie. Ek het vir Najwa gesê sy moet dit self doen. Ek het ‘n kussing om die vuurwapen gedraai. Ek het na my regterkant gekyk na waar (Snyders) was en vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde het ek haar hand tussen myne gevoel. Een enkele skoot het deur my ore gedreun en sy het geskree.”

To Top