Polisie keer drie aan nadat hulle op perlemoen beslag hê

Die Burger, deur Maygene de Wee

Drie mans is aangekeer nadat die polisie in Goodwood naby Kaapstad op perlemoen beslag gelê het.

Kapt. Frederick van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie het die vorige dag inligting uit die gemeenskap ontvang oor ‘n ondraaglike reuk wat van ‘n huis in Wienerstraat, Goodwood, afkomstig is.

Die polisie is omstreeks 13:00 na die huis waar hulle op ‘n onwettige perlemoenverwerkingsaanleg afgekom het.

Volgens Van Wyk het die polisie in een vertrek op vlekvrye staalpotte, plastiekhouers en kookplate afgekom.

In ‘n tweede vertrek het hulle toerusting vir die droog van perlemoen afgekom. Beslag is ook gelê op skale, gasbottels, bokse en sakke sout.

Drie mans van 37, 40 en 43 jaar oud wat in die huis was, is in hegtenis geneem.

Hulle sal vandag in Goodwood se landdroshof op aanklagte van oortredings van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne verskyn.

Die hoeveelheid en waarde van die perlemoen waarop beslag gelê is, is nog onbekend.

To Top