Raaisel verdiep oor lyk in kattebak

Die Burger, artikel deur Maygene de Wee

‘n Middeljarige man is klaarblyklik die sleutel agter die omstandighede waarin die verkoolde lyk van ‘n vrou Donderdagaand in die Kaap gevind is.

Die vrou is in die kattebak van ‘n donkerkleurige BMW agter die Dieprivier-spoorwegstasie in Kaapstad se suidelike voorstede gevind.

Die voertuig was aan die brand toe die polisie omstreeks 22:00 op die toneel in Massingerstraat, Dieprivier, opdaag.

Lt.kol. Andre Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie het die lyk in die kattebak gevind nadat die brand geblus is.

Die donkerkleurige BMW is soortgelyk aan die groen BMW van Gill Packham (57), ‘n administratiewe beampte by die Sprinfield Convent in Wynberg, Kaapstad.

Packham is Donderdag kort na 18:00 deur ‘n nabye familielid as vermis by die Dieprivier-polisiekantoor aangemeld.

Die familielid het glo vir die polisie gesê Gill is omstreeks 07:00 die oggend laas gesien toe sy haar huis in Rieslingstraat, Constantia, verlaat het om werk toe te gaan. Packham het nooit by die skool opgedaag nie.

Donderdag om 19:33 het Packham se dogter, Nicola Packham, ‘n hartroerende inskrywing op haar Facebook-blad gemaak. Die inskrywing lui: “As enigiemand ons kosbare ma gesien het, tree asseblief onmiddellik met ons in verbinding.”

Bronne vertroud met die ondersoek sê die polisie het kringtelevisiemateriaal by private huise in die omgewing gekry wat daarop dui dat ‘n donkerkleurige BMW met ‘n middeljarige man agter die stuur omstreeks 13:00 in die omgewing was waar die kar later gebrand het.

Die voertuig is weer later die aand in die omgewing gesien. Daar kan glo ook op die kringtelevisiebeelde gesien word hoe dieselfde man wat agter die stuur van die voertuig gesien is, van die omgewing af wegloop. Die Packhams se huis is sowat 2,2km van die toneel waar die BMW gevind is.

Gister was donker voertuigspore en die smeulende as van die voertuig se onderdele al wat oorgebly het van die grusame ontdekking onder die bome in Massingerstraat.

By die Packham-woning was daar gisteroggend een polisie-voertuig met twee polisiebeamptes. Die stuk straat voor die huis was met geel polisielint afgesper. Daar is gesê die polisie het lasbriewe bekom om die huis deur te soek.

Gistermiddag het die polisie ook foto’s van Rob Packham se voertuig geneem, berig Jaco Marais. Behalwe van die voertuig self, is daar ook foto’s van die wiele en die binnekant van die kattebak geneem. Die kattebak is ook deurgesoek.

Traut het gesê dit is “te vroeg om te sê of die twee voorvalle verbind kan word”.

Penny Boock, skakelbeampte van Springfield Convent, het gister gesê die familie het hulle gevra om asseblief nie met die media oor Packham te praat nie.

To Top