Stryd in skolesport eindig by polisie

Die Burger, deur Nadine Theron

Ouers van twee van Kaapstad se voorste seunskole het klagte van aanranding by die polisie ingedien na ‘n waterpolo-wedstryd tussen die skole se eerste spanne.

Die konflik het so erg uitgekring dat die skole hul jaarlikse aandkrieketwedstryd gekanselleer het.

“Emosies het te hoog geloop,” sê Rondebosch Boys High en Bishops Diocesan College in ‘n gesamentlike verklaring oor waarom die krieketwedstryde gekanselleer is.

“Die rusies en, by tye, die onvanpaste ondersteuning van die kantlyn af het ons genoop om die toenemend driftige konteks wat rondom skole-sport en -ondersteuning ontstaan het, te heroorweeg.”

Die betrokke matriekseuns is glo vriende en speel albei vir die span van Westelike Provinsie Skole-waterpolo (WPSWP). Albei het Suid-Afrika verlede jaar in Tsjeggië verteenwoordig.

WPSWP bevestig in ‘n verklaring dat ‘n subkomitee gestig is om die voorvalle in en na die wedstryd te ondersoek.

Coral Stone se 17-jarige seun is die kaptein van Rondebosch se waterpolospan. Sy sê ‘n lid van Bishops se span het haar seun onder die water getrek net voordat hy ‘n doel sou aanteken.

Toe haar seun opkom om asem te skep, het die seun van Bishops hom na bewering met die vuis in sy mond bygedam. Hy het onder meer ‘n tand verloor en die impak het ‘n been in sy skedel gekraak.

Die Burger het grafiese foto’s van die seun se bebloede gesig onder oë gehad.

Die twee seuns was saam op Rondebosch voordat die ander seun se ma hom na Bishops oorgeplaas het. Die seun van Bishops se ma het aan Sunday Times gesê sedert haar seun uit Rondebosch gehaal is, word hy geboelie.

Stone sê nadat hulle met hul beseerde seun by Bishops se swembad weg is, het ‘n rusie ontstaan waarby die Bishops-waterpolospeler se 15-jarige kleinboet en talle ondersteuners betrokke was.

Die 15-jarige is glo in die bakleiery beseer en ‘n klag van aanranding is glo deur die Bishops-seun se ma teen Stone se 21-jarige seun ingedien. Die Stones het egter ook ‘n aanklag van aanranding teen die Bishops-seun aanhangig gemaak.

To Top