Polisie lê beslag op meer as 2 ton perlemoen buite Langebaan

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR ROMANTHA BOTHA

Kaapstad – Twee mans het gister in die Hopefield-landdroshof verskyn nadat perlemoen ter waarde van R9 miljoen Maandag in ‘n pakhuis buite Langebaan ontdek is.

Die mans, onderskeidelik 31 en 35 jaar oud, het verskyn op aanklagte wat verband hou met die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne.

Volgens konst. Noloyiso Rwexana, ‘n polisiewoordvoerder, het lede van die polisie se K9-eenheid (die honde-eenheid) en die department van landbou, bosbou en visserye ondersoek ingestel nadat inligting ontvang is oor onwettige bedrywighede by ‘n pakhuis in die buitewyke van Langebaan.

“Om 07:00 het owerhede die pakhuis binnegegaan en ‘n onwettige perlemoenverwerkingsgerief aangetref.

“Verskeie vertrekke, onder meer vertrekke waar die perlemoen gekook, drooggemaak en gesorteer is, asook ‘n leefarea is in die pakhuis aangetref,” het Rwexana gesê.

Die toerusting wat gebruik is om die perlemoen te droog en te kook, sluit in groot staalpotte, gasstowe en -silinders, skale, waaiers en termomemters.

Verskeie rakke waarop die perlemoen gedroog word, is ook aangetref.

“Aan die agterkant van die gebou is ‘n kweekhuis met daggaplante aangetref.”

Beslag is gelê op 37936 gedroogde perlemoene en vyf sakke perlemoen wat nog in die skulpe was.

Die perlemoen weeg altesaam 2,185 ton.

Die twee mans, albei Chinese burgers, is op die perseel aangetref en in hegtenis geneem.

To Top