Polisie soek vermiste vrou se tweede selfoon

Die Burger, deur Maygene de Wee

‘n Vrou van Constantia in Kaapstad wat verlede Donderdag as vermis aangemeld is, se selfoon was die Woensdagaand voor haar verdwyning omstreeks 21:00 laas aktief.

Die volgende dag – Donderdag 22 Februarie – omstreeks 18:00 het Gill Packham (57) se een dogter wat in Johannesburg woon haar by die Dieprivier-polisiekantoor as vermis aangemeld.

So het bronne vertroud met die ondersoek na Packham se verdwyning gister gesê.

Packham is die Donderdag omstreeks 07:00 laas gesien toe sy haar huis verlaat het om werk toe te gaan. Sy het nooit by haar werk opgedaag nie.

‘n Bron sê ook dat ‘n donkerkleurige BMW wat die Donderdag omstreeks 22:00 in Massinger-weg onder bome agter die Dieprivierstasie gevind is, wel die van Packham is. Die BMW was aan die brand toe polisiebeamptes van die Dieprivier-polisiebeamptes van die Dieprivier-polisiekantoor op die toneel aangekom het.

Nadat die brand geblus is, het hulle die verkoolde lyk van ‘n vrou in die voertuig gevind.

Die polisie vermoed dat die verkoolde lyk die van Packham, ‘n administratiewe beampte van die Springfield Convent in Wynberg, kan wees.

‘n Lykskouing om die presiese doodsoorsaak vas te stel is glo Dinsdag gedoen, maar die uitslag is nog onbekend.

Die bronne sê die polisie het beslag gelê op ‘n selfoon van ‘n nabye familielid van Packham. Die polisie is nou op soek na ‘n tweede selfoon wat die familielid het. Die bronne sê die polisieondersoek na Packham se verdwyning en die verkoolde lyk in die BMW se kattebak is in ‘n sensitiewe stadium.

Intussen sê kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, die ondersoek gaan voort.

‘n Bron sê ‘n wag wat werk by Dieprivier se stasie het glo aan die polisie gesê hy het verlede Donderdag omstreeks 13:00 ‘n middeljarige man in die omgewing gesien. Die man was glo agter die stuur van ‘n donkerkleurige BMW.

Volgens die bron het die wag gesien hoe die man op die stuurwiel slaan en “f*k, f*k, f*k” sê. “Die wag het na die man gestap om te hoor of alles reg is. Volgens die wag het die man toe die motor aangesit en weggery.”

Die wag het glo gesê dat die man ‘n blou kortbroek aangehad het.

To Top