Vrou glo reeds dood voordat motor brand

Die Burger, deur Maygene de Wee

“Haar hande was vasgebind en sy was reeds dood voordat die voertuig aan die brand gesteek is.”

So het ‘n ingeligte bron gister gesê oor die verkoolde lyk van ‘n vrou wat Donderdag omstreek 22:00 in Dieprivier in die kattebak van ‘n donkerkleurige BMW gevind is.

Dit blyk die merke van vermoedelik toue wat om haar gewrigte was, kon nog duidelik gesien word.

Die polisie vermoed dat die verkoolde lyk die van die 57-jarige Gill Packham, ‘n administratiewe beampte van die Springfield Convent in Wynberg, kan wees.

Na wat verneem word, is die lyskouing om die identitiet van die verkoolde oorskot vas te stel nog nie afgehandel nie.

‘n Bron het gesê ‘n sekerheidswag wat by Dieprivier se stasie werk, waar die brandende motor gelaat is, het glo aan die polisie gesê dat hy verlede Donderdag ‘n middel-jarige man omstreeks 13:00 in die omgewing gesien het. Die man was glo agter die stuur van ‘n donkerkleurige BMW.

Volgens die bron het die sekerheidswag gesien hoe die man op die slaan en “f*k, f*k, f*k” sê.

“Die sekerheidswag het na die man gestap om te hoor of alles in die haak is. Volgens die sekerheidswag het die man toe die motor aangesit en weggery.”

Die sekerheidwag het glo aan die polisie gesê dat die man ‘n blou kortbroek aangehad het.

Bronne vertroud met die ondersoek het Vrydag gesê die polisie het kringtelevisie-beeldmateriaal van private huise in die omgewing gekry wat daarop dui dat ‘n donkerkleurige BMW met ‘n middel-jarige man agter die stuur omstreeks 13:00 in die omgewing was waar die motor later gebrand het.

Die voertuig is weer later die aand in die omgewing gesien.

Daar kan glo ook op die kringtelevisiebeelde gesien word hoe dieselfde man wat agter die stuur van die voertuig gesien is van die omgewing af wegstap.

Die Packhams se huis is sowat 2,2km van die toneel waar die BMW gevind is.

Intussen het kapt. Frederick van Wyk, ‘n polisie-woordvoerder, gesê die verkoolde lyk, sowel as Packham se verdwyning word ondersoek.

“Dit is egter nog te vroeg om te sê om mev. Packham se verdwyning met die uitgebrande voertuig verband hou.”

To Top