Polisie vind dwelms van R5,6miljoen in motor

Die Burger – Arisa Janse van Rensburg

‘n 27-jarige man is Saterdag in hegtenis geneem nadat die polisie beslag gele^ het op dwelms ter waarde van R5,6miljoen.

Volgens ‘n verklaring deur die Wes-Kaapse polisie was die man vermoedelik van Johannesburg na Kaapstad onderweg toe polisielede en die provinsiale verkeersowerheid sy voertuig in Laingsburg afgekeer het.

“Die span was besig met ‘n ondersoek op die N1 toe hulle ‘n silwerkleurige ligtevoertuig sien. Lede van die span het die voertuig van die pad afgetrek.

Hulle het 15 sakke tik (gekristalliseerde metamfetamien) in die motor gekry.

“Die dwelms het 16kg geweeg en die waarde word op R5,6miljoen geskat,” lui die verklaring.

Die dwelms is in ‘n geheime kompartement in die voertuig versteek.

Die dwelms en voertuig is as bewysstukke by die polisie ingehandig.

Die man sal na verwagting vandag in die landdroshof in Laingsburg verskyn.

In ‘n onverwante voorval is nog twee mans Saterdagaand in die Wes-Kaap in hegtenis geneem.

Twee mans, ‘n 57-jarige en ‘n 32-jarige, is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van wapens en ammunisie.

Die Wes-Kaapse polisie het Saterdagoggend ook ‘n 17-jarige persoon op soorteglyke klagte in hegtenis geneem.

Die verdagtes sal almal na verwagting vandag in die landdroshof in Athlone verskyn.

To Top