Polisie: vroeëre bewerings ondersoek; niks gevind

Die Burger

Verslaggewer: Llewellyn Prince

DIS LASTER, Sê AKADEMIKUS. HY WIL SAUK NOU OOR ‘SPECIAL ASSIGNMENT’ DAGVAAR

Die prokureur van ‘n akademikus van die die Universiteit van Kaapstad (UK) meen dit is “uiters lasterlik” dat sy kliënt deur die aktualiteitsprogram Special Assignment by die seksuele misbruik van minderjarige straatkinders hier betrek word. Die akademikus, wat tans met verlof is, beplan om die program se vervaardigers, sowel as ander partye wat die bewerings teen hom in Dinsdagaand se episode gemaak het, vir laster te dagvaar. Mnr. Johann Abrahams, uitvoerende vervaardiger van Special Assignment, het hierop gesê die betrokke episode is uitgesaai “omdat ons glo dit was in die openbare belang en die waarheid.” ‘n Amptenaar in die SAUK se regsadeling, wat anoniem wou bly, het gesê die korporasie sal enige hofgeding teen die program teenstaan. Intussen sê die UK en die polisie dat die bewerings teen die betrokkene ondersoek word. Mnr. Keith Gess, die prokureur, het gesê sy kliënt ontken betrokkenheid by enige misdadige aktiwiteite. “Ons het aanvanklik ‘ n interdik teen die uitsaai van die program oorweeg, maar het dit laat vaar. Die aard van die bewerings kan egter sy hele lewe verwoes, terwyl daar geen werklike grondslag daarvoor is nie. Die polisie en die Skerpioene het hom na soortgelyke bewerings in ‘n vorige program in 2006 ondersoek, maar niks het daarvan gekom nie. Daar was nie bewyse nie.” Volgens hom gaan hulle vasstel of daar op die oomblik enige polisie-ondersoeke teen sy kliënt is. “Om nou weer dieselfde bewerings teen my kliënt uit te saai en die wyse hoe hy gekul is om in Dinsdag se program te verskyn, getuig van onverantwoordelike joernalistiek en skend sy privaatheid. Dit is onwettig en hoogs lasterlik.” Intussen het me. Gerda Kruger, woordvoerder van die UK, gesê die universiteit was van die bewerings bewus, “mar het behoorlike regspleging verwag. Die aard van die bewerings is uiters steurend. Ons het ‘n interne ondersoekkommissie, onder-voorsitterskap van ‘n adjunk-vise-kanselier, saamgestel wat reeds begin het om beskikbare getuienis te oorweeg.” Insp. Bernadine Steyn, ‘n polisie-woordvoerder, het gesê: “Ons het (vroeër) bewerings van kinderpornografie teen die betrokke persoon ontvang. ‘n Ondersoekdossier is daarna geopen en ‘n deursoekingslasbrief is op 18 Junie verlede jaar by sy huis uitgevoer. Daar is op sy rekenaars beslag gelê, maar geen kinderpornografie kon daarop gekry word nie. Ons ondersoek duur voort.” Intussen het mnr. Ryan Brown Dalton, ‘n kinderaktivis wat die afgelope nege jaar die seksuele uitbuiting van straatkinders beveg, gesê dit is moeilik om direkte bewyse teen oortreders van die dade te kry. “Dit maak egter nie saak onder watter omstandighede hulle leef nie, die straatkinders is kinders wat ons moet beskerm en nie andersom nie.” Me. Linda Ambor, ‘n aktivis wat aan Dinsdag se program deelgeneem het, het gesê die lang polisie-ondersoek stel die kinders aan verdere trauma bloot omdat hulle herhaaldelik verklarings moet aflê. “Dit is tyd dat iemand vir die kinders opstaan. Mense wat dit aan kinders doen, is siek en moet gehlep of uit die samelewing verwyder word.”

To Top