‘Ingewikkeld’: Staat sluit saak in Petersen-verhoor

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

SNYDERS ONTSLAG GEWEIER

NAJWA SE VERDEDIGING KRY WEEK UITSTEL

KAAPSTAD – Een van die beskuldigdes in die Taliep Petersen-moordsaak is gister ontslag geweier, kort nadat die staat sy saak in die “ingewikkelde” verhoor gesluit het. Minute nadat adv. Shareen Riley aan regter Siraj Desai gesê het “dit is die staat se saak”, het een van die beskuldigdes, mnr. Jefferson Snyders, se regsverteenwoordiger opgestaan en ‘n aansoek om ontslag ingedien. Volgens adv. Roelf Konstabel het die staat nie daarin geslaag om Snyders se betrokkenheid by die beweerde sameswering om Taliep te laat vermoor, te bewys nie. “Dit is my betoog dat die staat geen getuienis gebring het wat daarop dui dat die hof die beskuldigde skuldig kan bevind nie – ook nie op die vuurwapenklag (die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie) nie,” het Konstabel aangevoer. Mev. Najwa Petersen en mnre. Abdoel Raasiet Emjedi, Waheed Hassen en Snyders ontken skuld op aanklagte van moord, sameswering tot moord as alternatief, die onwettige besit van ‘n vuurwapen, die besit van ammunisie en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Die regter het gesê die beskuldigde was volgens sy eie weergawe teenwoordig toe die moord gepleeg is. Hy het die aansoek van die hand gewys en gesê hy sal redes later verstrek. Intussen het adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, vir mev. Petersen, ‘n week uitstel gevra. Hy het gesê hy het meer tyd nodig om vir die verdediging se saak voor te berei. Desai het gesê dit is ‘n geldige versoek en die verdediging sal ook geregtig wees om die staat se verklarings deur te gaan wat nie deur die staat gebruik is nie. “Dit is geldig, veral in die lig daarvan dat dit ‘n ingewikkelde saak is.” Von Lieres und Wilkau het ook nie mnr. Fahiem hendricks gevra om as getuie teruggeroep te word nie, nadat hy vroeër gesê het hy wil sodanige aansoek indien. Die staat voer aan mev. Petersen het Hendricks gevra om die moord te beplan. Die staat se laaste getuie het gister getuig oor die telefoonkontak tussen al die beskuldigdes en waar elkeen hom tydens die onderskeie oproepe bevind het. Mnr. Peter Schmitz, ‘n kenner wat spesialiseer in misdaadkartering, het onder meer getuig oor die 32 oproepe wat die aand van die moord op Taliep – 16 Desember 2006 – gemaak is. Hy het getuig oor selfoonkontak tussen die beskuldigdes vanaf 13 Desember tot kort na die moord op 17 Desember. “Ek het die selfoondata van die ondersoekbeampte (kapt. Joe Dryden) verkry. Ek het na die oproepe gekyk en dit (op ‘n grafiese voorstelling wat aan die hof gewys is) met die selfoontorings verbind om die kommunikasie (tussen die beskuldigdes) te illustreer.” Op die vraag van die staatsaanklaer wie die oproepe tussen mev. Petersen en hendricks begin het, het Schmitz geantwoord dit is oproepe wat mev. petersen gemaak het. Die staat het versoek dat die rekords van die borgtogaansoeke van mev. petersen ook as getuienis ingedien word. Die regter het dit toegestaan. Die saak is uitgestel tot 20 mei, wanneer die verdediging na verwagting met sy saak sal begin.

To Top