Agterstand in strafhowe: Praktiserende regslui doen self oplossing aan die hand

Die Burger

Verslaggewer: Philip de Bruin

NAGHOWE VIR SA ‘N ‘BRILJANTE PLAN’

Die wat snags aangekeer word, kan dadelik verskyn

KAAPSTAD – Naghowe vir Suid-Afrika om die geweldige agterstand in strafsake te probeer wegwerk, kan eersdaags ‘n realiteit wees. Drie advokate van Johannesburg – advv. Sharise Weiner SC, Donovan Smith en Shajda Mahomed – is die dryfkrag agter die stigting van sulke howe. Hulle het al ‘n volledige voorstel in verband daarmee en voorstelle hoe bestaande wette aangepas kan word om daarvoor voorsiening te maak, aan al die prokureursordes van die land, die Prokureursorde van Suid-Afrika (LSSA), die Algemene Balieraad van Suid-Afrika en die Regshervormingskommissie van Suid-Afrika, gestuur. Die idee is dat al die land se strafhowe – landdroshowe, streekhowe en hoër howe – 24 uur per dag in sitting sal wees, maar met dienende advokate, prokureurs en anders regsgeleerdes uit die private sektor as regters, landdroste, staatsaanklaers en openbare verdedigers. Van sulke regslui sal voorts verwag word om die nag-hofwerk gratis te doen, sodat die naghowe byna geen bykomende uitgawes vir die reeds swaar geteisterde departement van justisie sal hê nie. Net hofstenograwe sal deur justisie voorsien moet word en hofordonnanse deur die polisie. Prof. Marinus Wiechers, oud-rektor en -hoogleraar in die reg aan Unisa, het gister gesê hy beskou Wiener-hulle se “inisiatief as briljant en iets wat beslis verwelkom moet word. Mits die onafhanklikheid van die regbank behoue bly, is die idee van naghowe ‘n praktiese oplossing vir ‘n baie ernstige probleem. Wat vir my veral treffend is, is dat die idee vir die naghowe spontaan uit die geledere van praktiserende regslui gekom het. Dit bewys dat die private regsberoep nie net handjies gevou wil terugsit terwyl die howe spartel nie. Hulle sê: ‘Kom ons hou op kla en mor en doen iets’. Die regering het nou al ‘n dekade gehad om die situasie op te los, maar nog nie regtig iets reggekry nie. Die regering mag dus nie hierdie voorstel afmaak nie. Dit moet ernstige aandag kry.” As hy gevra word om self by so ‘n hof betrokke te raak, sal hy dit doen, sê Wiechers. Hy waarsku egter dat daar baie praktiese hekkies in die pad lê van sulke naghowe. Weiner het egter gister gesê sy en haar kollegas is heeltemal bewus van die potensiële struikelblokke. “Ons sal natuurlik eers die volle samewerking van al die prokureursordes, die LSSA en die Algemene Balieraad moet kry. In ‘n mindere mate sal justisie en die polisie ook hul samewerking moet gee. Ons het reeds terugvoering van die regskommissie gekry, wat nie ons voorstel summier afgeskiet het nie. Hulle oorweeg dit in samewerking met justisie.” Een van die praktiese voordele van naghowe is dat misdadigers wat op heter daad betrap word, dadelik hof toe gevat kan word en dat die saak daar en dan afgehandel kan word sonder dat die verdagte tot jare lank as verhoorafwagtende in ‘n tronk aangehou hoef te word. Justisie het enkele jare gelede op ‘n proefgrondslag by sekere landdroshowe met ‘n stelsel van naghowe begin, maar dit het ‘n stille dood gesterf.

To Top