‘Polisiegeweld’ in nagklub bekyk

DIE BURGER

Verslagewer: Debree Kluge

Kaapstad – Nog ‘n ondersoek na polisiegeweld word gedoen na ‘n voorval verlede naweek in die stad. ‘n Klubeienaar van Woodstock, mnr. Nnamdi Muoka, is glo verlede Saterdagaand deur polisiebeamptes aangerand voor hy in hegtenis geneem is. Me. Melani Kuhn, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, het bevestig die saak word ondersoek. “Toe die minister daarvan hoor, het hy dadelik ‘n ondersoek gevra.” Muoka, eienaar van die Dreams Sports Bar in Woodstock, beweer ses polisiebeamptes het die klub omstreeks 23:30 binnegekom en gesê hulle het klagtes oor die harde musiek ontvang. Volgens Muoka het hy meeer inligting by hulle probeer kry, maar hulle het gesê hy moet stilbly en gedreig om hom in hegtenis te neem. Muoka het een van die beamptes gedurende sy inhegtenisneming met sy kop gestamp nadat hy en sy broer glo deur die gesig geslaan is. Me. Nicky Asher-Pedro was die aand in die klub en het gesien hoe ‘n polisiebeampte Muoka met ‘n flits oor die kop slaan. “Nnamdi het met ‘n ander beampte gepraat en toe slaan die man hom oor die kop. Hy het probeer wegkom, maar hulle het aanhou slaan.” Sy het die polisiebeampte se aggressie bevraagteken en hy het haar sak en selfoon gegryp en op die vloer gegooi. “‘n Polisievrou het my aan my romp beetgekry en dit geskeur en toe pepersproei in my gesig gespuit. “Nnamdi het vir hulle gesê hulle word met die sekerheidskameras afgeneem. Hulle het gevra waar die kantoor is waar die beeldmateriaal gehou word.” Op die beeldmateriaal wat aan Die Burger gegee is, kan gesien word hoe Muoka oor die kop geslaan word en hoe ‘n vrouebeampte tussenbeide probeer tree. Volgens lt.kol Andre Traut, ‘n polisiewoordvoerder, het lede van die Woodstock-polisie ingevolge die Drankwet ‘n klopjag op die klug gedoen. Die klub het na bewering nie aan die bepalings van die wet voldoen nie en die eienaar is daarom in hegtenis geneem. Terwyl hy weggelei is, is die polisiebeamptes glo deur lede van die publiek aangerand, en nog mense is in hegtenis geneem weens die beweerde aanranding van polisiebeamptes, dronkenskap en oproerigheid in ‘n gelisensieerde plek en omdat hulle glo die polisielede in die uitvoering van hul pligte verhinder het, het Traut gesê. Mnr. Andre Johnston [Mathewson Gess Ing.], Muoka se prokureur, het gesê verklarings is reeds afgelê en gaan by die Onafhanklike Klagtedirektoraat ingedien word. Muoka en nog drie mense verskyn op 10 Mei in die Kaapstand-landdroshof.

To Top