Dagmoeder skuldig oor kalmeerbrousels

DIE BURGER

Verslaggewer – Jan Gerber (Somerset-Wes)

‘n Voormalige dagmoeder van hier is gister skuldig bevind dat sy die kinders in haar sorg ‘n brousel kalmeermiddels ingegee het om hulle te laat slaap. Haar getuienis is as ‘n konkoksie ongestaafde bewerings bestempel. Streeklanddros Marilyn Cannon het Monica Helm (65) skuldig bevind op agt aanklagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Cannon het beslis Helm het inderdaad die agt kinders in haar sorg teen die einde van 2007 ‘n brousel met voorskrif-kalmeermiddels, insluitend opiate, in gegee om hulle te laat slaap. Voorts is sy daaraan skuldig bevind dat haar dagsorgsentrum Kinderland, in Heldervue, Somerset-Wes, nie geregistreer was nie. Tydens die uitspraak van bykans vier uur het Helm in die Somerset-Wes-streekhof se beskuldigdebank rondgeskuif, soms haar kop effens geskud en soms afgekyk met haar hand voor haar mond. Helm se verweer was dat haar voormalige huishulp, me. Angeline Carolus, ‘n komplot teen haar gesmee het. Sy het beweer as die kinders wel so ‘n brousel ingegee is, was dit sonder haar medewete en weens die toedoen van Carolus, wat haar medikasie sou gesteel het. Cannon het die verweer verwerp en gesê dit is “belaai met teenstrydighede”. Carolus, wat aanvanklik saam met Helm aangekla is, het vir die staat getuig hoe Helm pille fyngemaak, met water gemeng en vir die kinders ingegee het sodat hulle kan slaap. Cannon het bevind Carolus se weergawe is in breë trekke waar. Volgens Cannon berus die “komplot” op toevallighede en die betrokkenheid van te veel mense wat nie ‘n byltjie met Helm te slyp gehad het nie. Cannon het ook die staat se ander getuienis aanvaar. “‘n Goue draad van versteurde slaappatrone loop deur die ouers se getuienis,” het sy bevind. Cannon het Helm se voorkoms as “ontstellend” bestempel en het gesê sy vermoed sy was onder die invloed van kalmeermiddels, aangesien van haar antwoorde nie sin gemaak het nie. “Sy het ook ‘n meedoënlose, histeriese aanval op Carolus van stapel gestuur,” het Cannon gesê. Die saak is op versoek van mnr. Keith Gess, Helm se prokureur, tot 5 Julie vir ‘n mediese en korrektiewe verslag uitgestel. Cannon het ook vir ‘n psigiatriese verslag gevra en Helm se borgtog verleng. Me. Janine Heyns, een van die betrokke kinders se ma, het buite die hof gesê sy is tevrede en het bygevoeg: “Nou kan ‘n mens dit afskryf en aangaan met jou lewe.”

To Top