Saak teen 3 uitgestel toe speurder nie opdaag

DIE BURGER

Verslaggewer: Jana Breytenbach

Kaapstad – Die saak teen lede van ‘n internetbedrogsindikaat wat na bewering vliegtuigkaartjies op die swartmark verkwansel het, is gister in die Kaapstadse landdroshof uitgestel omdat die ondersoekbeampte nie opgedaag het nie. Mnre. John Luma (30), Anthony Okonkwo (30) en Malusi Ciya (23) is op 16 Mei in Milnerton in hegtenis geneem. Hulle het na bewering vliegtuigkaartjies met internasionale kredietkaarte oor die internet gekoop en dit daarna op die swartmark verkoop. Luidens die klagstaat is Luma van Kameroen, Okonkwo van Nigerië en Ciya ‘n Suid-Afrikaanse burger. Landdros Jashtree Steyn het die saak Donderdag voorlopig sewe dae uitgestel om noodsaaklike borgtoginligting te kry. Die hof het gister weer vlugtig gesit om borgtog vir Okonkwo te oorweeg omdat hy Maandag ‘n belangrike eksamen skryf. Kapt. Trevor Bailey, die ondersoekbeampte, het egter nie vir die saak opgedaag nie. Luidens die klagstaat het hy die hof in kennis gestel hy kon nie sekere inligting oor Okonkwo bevestig nie. Steyn het die saak tot 25 Mei uitgestel. Die beskuldigdes bly in aanhouding.

To Top