R3,5m. se perlemoen gekry

Die Burger, deur Maygene de Wee

Lede van die polisie se provinsiale taktiese reaksie-eenheid het Saterdag in die vroeë oggendure by ‘n huis in Sunbird Park naby Kuilsriver toegeslaan waar hulle perlemoen met ‘n geraamde straatwaarde van meer as R3,5 miljoen gekry het.

Van die perlemoen was al ontskulp, terwyl ander nog besig was om gekook te word.

Die polisiebeamptes het beslag gelê op masjinerie en ander toerusting wat gebruik is om die perlemoen te verwerk.

Bronne sê meer as 17500 stuks perlemoen is by die huis gevind.

Lede van die departement van vissery en bosbou het kort na 01:00 by die toneel opgedaag en begin om die perlemoen te tel. Hulle was uiteindelik eers na 05:00 klaar getel.

Vyf mense, sover bekend drie Zimbabwiese burgers, asook die eienaars van die huis, ‘n man en sy vrou, is by die huis in hegtenis geneem.

To Top