SAAK OOR AGT SE UITLEWERING GOU AANGEHOOR

DIE BURGER – JANA BREYTENBACH

Die uitleweringsaak van die agt beskuldigdes in die internasionale internet-liefdeslenter bekend as Black Axe is ‘n stappie nader om aangehoor te word.

Die saak is in die stadium regstegnies met een van die beskuldigdes, Toritseju Gabriel Otubu (41), wat ‘n punt in limine (die bekenstelling van tegniese regspunte wat beredeneer en beslis word voordat die meriete van die saak beredeneer word) oor dubbele misdadigheid betwis het.

Landdros Ingrid Artsen het in haar uitspraak gesê sy is gevra om te beslis oor hoe hierdie kwessie bepaal word en of daar na net die elemente van die misdryf gekyk moet word of die gedrag van die persoon wat uitlewerbaar is. Hierdie kwessie is die middelpunt van uitleweringsake en Artsen sê sy moe sook eers kyk na of die oortredings is wat uitlewerbaar is.

As ‘n voorbeeld is moord tydens die aanhoor van die aansoek in Junie genoem. Moord is in albei lande vervolgbaar, ongeag die verskillende soorte moordaanklagte wat in die twee lande geld. Indien daar ‘n misdryf is waarvan beskuldigdes in Amerika aangekla word en die spesifieke klag bestaan nie in Suid-Afrika nie, kan die beskuldigdes nie uitgelewer word nie.

In Artsen se uitspraak het sy nie noodwendig ‘n bevinding oor die dubbele misdadigheid gemaak nie, maar eerder dat sy ingevolge die uitleweringsverdrag na die element van die misdrywe in die uitlewerings verhoor sal kyk, eerder as die gedrag van die beskuldigdes.

Die saak het ‘n ingewikkelde agtergrond met Otubu wat intussen die enigste beskuldigde is wat op borgtog vrygelaat is. Hy het ook suksesvol aansoek gedoen dat sy saak apart van die ander sewe beskuldigdes se saak aangehoor word.

Dus sal Perry Osagiede (52), Enorense Izevbiege (45), Franlin Edosa Osagiede, Osariemen Eric Clement (35), Collin Owhodashiru (33) en Prince Ibeabuchi Mark se uitleweringsaansoek saam aangehoor word.

Artsen se uitspraak was in verband met Otubu se aansoek, maar hoewel dit ‘n impak op die res van die beskuldigdes sal hê, is hul regsverteenwoordigers ook die geleentheid gebied om vertoë te rig.

Die groep is in Oktober 2021 in verskeie dele van Kaapstad deur die Valke, die Amerikaanse federale speurdiens (FBI), Interpol en ander in hegtenis geneem weens beweerde oortredings in Suid-Afrika en Amerika. Hulle baklei sedertdien hand en tand teen die uitlewringsproses.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle deel is van die Black Axe-beweging, wat in Nigerië begin is en wat verdink word van internasionale internetbedrog. Hulle het na bewering weduwees en geskeide vroue deur sosiale media geteiken.

Luidens die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse klagstate is meer as 100 slagoffers seders 2011 deur die sindikaat geteiken en uit meer as $6.8 miljoen bedrieg. Die owerhede het op verskeie elektroniese toestelle beslag gelê toe die verdagtes in hegtenis geneem is.

Hulle word in Amerika van aanlyn bedrog, geldwassery en identiteitsdiefstal aangekla en lasbriewe vir hul inhegtenisneming is in New Jersey en Texas uitgereik.

Van die beskuldigdes is na bewering onwettig in Suid-Afrika omdat hul paspoorte verval het.

Die groep staan in Suid-Afrika tereg op verskeie aanklagte van geldwassery, bedrog en sameswering om aanlyn bedrog te pleeg.

Luidens die Amerikaanse klagstaat is die beskuldigdes almal leiers van die organisasie Neo Black Movements of Africa, beter bekend as Black Axe.

Die groep met die sewe beskuldigdes se regspanne het gister versoek dat hulle tyd gegun word om met hul kliënte te konsulteer om die uitspraak te bespreek en dan opdrag te kry oor wat die plan vorentoe is.

Landdros Alta Barnard het die versoek toegstaan en die saak tot 28 Julie uitgestel.

Otubu se saak is tot Oktober uitgestel, wanneer die uitleweringsaansoek na verwagting voor Artsen sal begin.

 

 

To Top