8 HOOR LATER OF HUL UITGELEWER GAAN WORD

Die Burger / Jana Breytenbach

Van die beskuldigdes in die sogenaamde Black Ace-internet-liefdeslenter is gister kortgeknip toe hulle hul griewe in die landdroshof in Kaapstad probeer lug het en is aangeraai om dit verder met hul regspanne te bespreek.

Die agt beskuldigdes is in Oktober 2021 in Kaapstad deur die Valke, die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI), Interpol en ander in hegtenis geneem weens beweerde oortredings in Suid-Afrika en Amerika. Hulle beklei sedertdien hand en tand teen die uitleweringsproses.

Gister is slotbetoë aangehoor in die eerste deel van die uitleweringsproses waarin hulle aanvoer hulle is hoegenaamd nie uitlewerbaar nie.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle deel is van die Black Axe-beweging, wat in Nigerië begin is en wat verdink word van internasionale internetbedrog. Hulle het na bewering weduwees en geskeide vroue deur sosiale media geteiken.

Die landdroshof het borgtog geweier, waarna hulle dit op appel na die hooggeregshof geneem het. Sewe het misluk, maar een is wel op borgtog vrygelaat.

Luidens die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse klagstate is meer as 106 slagoffers seders 2011 deur die sinkikaat geteiken en uit meer as 86.8 miljoen bedrieg. Die owerhede het op verskeie elektroniese toestelle beslag gelê toe die verdagtes in hegtenis geneem is.

Hulle word in die VSA van aanlyn bedrog, geldwassery en identiteitsdiefstal aangekla en lasbriewe vir hul inhegtenisneming is in New Jersey en Texas uitgereik.

Van die beskuldigdes is na bewering onwettig in Suid-Afrika omdat hul paspoorte verval het.

Die groep staan in Suid-Afrika tereg op verskeie aanklagte van geldwassery, bedrog en samewering om aanlyn bedrog te pleeg.

Luidens die Amerikaanse klagstaat is die beskuldigdes almal leiers van die organisasie Neo Black Movement of Africa, beter bekend as Black Axe…

Hulle voer in die uitleweringsaak aan dat ingevolge die uitleweringsverdrag tussen Suid-Afrika en Amerika, hulle net uitlewerbaar is as die aanklagte teen hulle in die VSA inderdaad ook vervolgbare aanklagte in Suid-Afrika is.

En, sê hulle, in hierdie geval is dit nie.

Die betoë was regstegnies van aard oor hoe misdade in die twee lande omskryf word. Die staat het aangevoer die hof moet al die faktore in ag neem.

As voorbeeld is moord genoem. Moord is in albei lande vervolgbaar, ongeag die verskillende soorte moord-aanklagtes wat in die twee lande geld.

Die beskuldigdes het aangevoer die misdade soos omskryf in die Amerikaanse klagstaat bestaan nie in Suid-Afrika nie.

Die hof het uitspraak tot 4 Julie uitgestel, wanneer dit elektronies gelewer sal word.

Die beskuldigdes moet weer 11 Julie in die hof verskyn, wanneer die volgende stappe in die hofproses tussen die partye en die die hof bespreek sal word.

Dit was hierna dat van die beskuldigdes hul griewe wou lug oor die lang gesloer met die saak, maar nog voordat hulle kon sê wat krap, het die landdros hulle gekeer en gesê hulle moet dit eerder met hul regsverteenwoordigers bespreek.

To Top