Man (29) van Bellville vas oor perlemoen van R2,8 miljoen in motor en vraghouer

Die Burger / Maygene de Wee

‘n Man is Maandag in hegtenis geneem nadat lede van die Valke hom met onwettige perlemoen met ‘n geraamde straatwaarde van sowat R2,8 miljoen in sy besit gevang het.

Zinzi Hani, Valke-woordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê die 29-jarige man is vasgetrek deur speurders verbonde aan hul eenheid vir beskermende hulpbronne, lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en amptenare verbonde aan die departement van bosbou, visserye en die omgewing.

Hani het gister gesê hulle is ingelig oor perlemoen wat moontlik by ‘n huis in Ionastraat, Bellville, gestoor word. Toe hulle Maandag daar toeslaan, het die 29-jarige man in ‘n silwerkleurige Mercedes-Benz op die perseel gesit.

‘n Polisiehond het positief gereageer naby die voertuig se kattebak en ook toe hy naby ‘n vraghouer op die perseel gekom het.

Volgens Hani het die polisie toe beslag gelê op vyf bokse met 2055 eenhede gedroogde perlemoen in die kattebak. Die man in die voertuig is in hegtenis geneem.

In die vraghouer is nog 20 bokse met nog gedroogde perlemoen gekry. Volgens Hani was daar altesaam 464kg perlemoen met ‘n geraamde straatwaarde van R2,8 miljoen.

Die man sal vandag in die landdroshof in Bellville op ‘n aanklag van die onwettige besit van perlemoen verskyn.

To Top