Ses mans in Kaapstad vas oor perlemoen

Die Burger / Maygene de Wee

Ses mans sal Dinsdag in die landdroshof in Kaapstad verskyn nadat hulle Sondag met smokkelperlemoen in hul besit betrap is.

Die polisie het inligting van misdaadintelligensie ontvang oor twee voertuie wat op pad was na Kaapstad en moontlik perlemoen vervoer. ‘n Beskrywing van die voertuie is bekom, sê Zinzi Hani, Valke-woordvoerder.

Die polisie het die voertuie gesien en hulle agtervolg. Die twee voertuie is later afgetrek en deurgesoek. Die polisie het sewe sakke ongedroogde perlemoen in die een voertuig gevind. Die bestuurder, wat glo ‘n buitelandse burger is, is in hegtenis geneem. Die polisie het ook op die perlemoen beslag gelê.

Vyf mans wat in die tweede voertuig was, almal Suid-Afrikaners, is ook in hegtenis geneem. Hul arrestasie het die polisie gelei na ‘n woonstelgebou in Century City, naby Milnerton, waar hulle op toerusting afgekom het wat gebruik word om perlemoen te droog, asook ongedroogde en gedroogde perlemoen.

Volgens Hani word die ses mans aangekla van die onwettige besit van perlemoen en die bestuur van ‘n fasiliteit waar perlemoen verwerk word.

To Top