SAAK TEEN STAGGIE SE SEUN NA PRIORITEITSHOF

ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACH HTTP://WWW.DIEBURGER.COM/

KAAPSTAD – Die voormalige leier van die Hard Livings-bende, Rashied Staggie, se seun het gister in sy jongste saak in die Kaapstadlanddroshof verskyn. Abdul “Dullah” Boonzaaier (26) en sy medebeskuldigde, Zaine van Wyk (25), het gister op aanklagte van die besit van dwelms en dwarsboming van die gereg verskyn. Luidens die klagstaat is die twee beskuldigdes op 24 Desember 2014 in Boonzaaier se huis in Wrightstraat, Woodstock, met tik betrap. Die polisie het Boonzaaier deursoek en metamfetamien (tik) in ‘n stuk papier in sy besit gevind. Een van die polisielede het die kristalle in sy hand uitgegooi om dit van naderby te bestudeer, toe Boonzaaier dit glo uit die polisiebeampte se hand geblaas het. Van Wyk is glo met ‘n glasbuis vol tik in sy besit betrap. Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, het bevestig die saak is vir 2 Februarie na die prioriteitshof in Khayelitsha oorgeplaas. Dit is die jongste in ‘n rits van hangende sake die afgelope twee jaar teen Boonzaaier. Sy ander sake is: * Op Augustus 2013 is hy aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, die onwettige besit van dwelms, die besit van vervalste geld en bedrog; * Op 31 Oktober 2013 is hy in Woodstock met dwelms gevang; * Hy het tussen 25 September 2013 en 27 Julie 2014 vir 164 dae nie by die Woodstock polisiekantoor aangemeld soos wat sy borgtogvoorwaardes voorgeskryf het nie; * Hy is op 5 Februarie 2014 in Mannenberg gesien en in hegtenis geneem; * Op 8 April 2014 is hy weer in Mannenberg gesien en in hegtenis geneem; * Op 27 Julie 2014 is hy weer in Mannenberg gesien en in hegtenis geneem, en * Hy is op 2 September 2014 in hegtenis geneem toe hy glo met dwelms in sy motor betrap is.

To Top