HOUTBAAI KRAP KOP NA MOORD OP JONG MA

RAPPORT, NIELEN DE KLERK HTTP://M.NEWS24.COM/RAPPORT/

Meer as ‘n week nadat ‘n jong ma se bebloede lyk in ‘n woonstel in Houtbaai gevind is, is dit steeds ‘n raaisel oor wat tot die grusame moord aanleiding gegee het. Nelscha Leonard (30) is minstens 21 keer met ‘n skerp voorwerp gesteek. Die polisie en veiligheidsbeamptes het verlede Saterdagoggend op die bloedige toneel in die Princess Beach woonstelkompleks afgekom. Juandre Diminitri Petsas (27) en Letanja Fourie (24), ‘n paartjie wat onlangs saam van Pretoria na Kaapstad verhuis het, is in hegtenis geneem. Hulle het Maandag in die hof verskyn in verband met die moord en is elk op borgtog van R1000 vrygelaat. Hulle moet weer op 24 Maart in die landdroshof in Wynberg verskyn. Rapport het die afgelope week vertroulik verneem Leonard was in ‘n stadium in ‘n verhouding met Petsas se pa, Costa. Costa wil nie hierop kommentaar lewer nie en het navrae na sy prokureur verwys. Bruce Hendricks, Costa se prokureur wat ook vir sy seun optree, sê hulle het geen kommentaar nie. Volgens bronne in die Houtbaai-gemeenskap word daar bespiegel dat die vermoorde Leonard na die beindiging van haar verhouding met Petsas sr. dikwels deur sy seun Juandre vertroos is. Fourie het glo nie hierdie vriendskap goedgekeur nie. Juandre Petsas se Facebook profiel het nog teen Maandag getoon hy en Fourie is in ‘n verhouding. Dit is sedertdien verwyder. Bronne na aan die ondersoek het aan Rapport gesê Fourie het die aand van die voorval by die luukse St James Manor gastehuis in Muizenberg gewerk voordat sy na die woonstel in Houtbaai teruggekeer het. Petsas en Leonard het glo die aand saam wyn gedrink. Petsas het ook glo die aand slaappille gedrink. Die mordtoneel is as ‘n bloedbad beskryf. Daar was glo veral baie bloed op die sitkamervloer en minstens twee bloederige handmerke teen die muur en verskeie bloedspore op die gelamineerde houtvloer. Na wat verneem word, was Leonard se sesjarige dogtertjie die aand ook in die woonstel. Die kind is tans in ‘n vriendin se sorg. Fourie se prokureur, Leon van der Merwe, het gesê sy kliënt en Petsas ontken die aanklagte ten sterkste. Shaun Caplin (29), ‘n kennis van Leonard, het haar dood as “sinloos” beskryf. Hy sê hy het gereeld met Leonard te doen gekry vanweë haar werk as verkoopsbestuurder van Archer Sales, ‘n telebemarkingsagentskap in Kaapstad. “Ek het dikwels telefonies en per e-pos met haar saamgewerk. Sy was ‘n wonderlike persoon, altyd opgewek.” Caplin sê hy sukkel om te begryp hoekom Fourie en Petsas op borgtog vrygelaat is.

To Top